Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Genoeg is genoeg. Dit was Vrydag 9 September die boodskap van leerlinge en onderwysers van Heidedal Primêr in Borcherds.
Hulle het aan 'n pretloop by die skool deelgeneem om die gemeenskap bewus te maak van die uitdagings van misdaad, vandalisme, geweld en diefstal.
Hulle het ook plakkate gedra waarop onder meer gestaan het, "Stop diefstal asb. Help Heidedal."
Die pretloop sou oorspronklik buite die skoolterrein in die omgewing plaasgevind het, maar aanpassings moes gemaak word. Die pretloop het binne die skoolterrein al langs die grensdraad plaasgevind met leerlinge en onderwysers wat saamgestap het.
Soos dit al gebruik is by die skool op Vrydae, het onderwysers as deel van "tekkie- en jeandag" interessante klere gedra. So het Liewe Heksie (Carol Lawrence-Pietersen, 'n onderwyseres by die skool) ook saamgestap.
VIDEO: Heidedal se pretloop
Mirelle Morgan, 'n onderwyseres by die skool en een van die organiseerders, het gesê daar is sowat 1 550 leerlinge by die skool en 48 onderwysers. Dit is die enigste Afrikaanse laerskool in Borcherds.
"Daar word kort-kort by ons skool ingebreek en die draad van die heinings word geknip vir deurgang oor die rugbyveld. Die veiligheid van ons leerders en opvoeders kom in gedrang, want jongmans wat met wapens loop, dreig en sien kans vir opvoeders.
"As skool het ons standpunt ingeneem en vra ons die gemeenskap om ons te ondersteun met hierdie bewusmakingsveldtog."
Volgens haar spoel dit wat in die gemeenskap gebeur, oor na die skool. Dit het 'n impak op dissipline. Daar word as 'n span saamgewerk om die uitdagings in die gemeenskap aan te spreek.
Van die onderwysers wat saamgestap het was Juanita Conning, Antjie van Rooyen, Janet Marika en Kameel Terblanche.
Die onderwysers is rolmodelle vir die kinders. Onderwysers probeer te alle tye netjies wees, want die leerders sien dit raak. Die skool probeer 'n baken van hoop wees.
Gladwin Morgan, wat ook 'n onderwysers by die skool is en betrokke was by die organisering, het gesê die plan was om in die strate vir tussen twee tot drie kilometer te stap. Aanpassings moes egter gemaak word as gevolg van munisipale vereistes.
Van die plakkate wat leerllnge gedra het.
Die plakkate wat leerllnge gedra het.
Ivan Scheepers, 'n onderwyser en die veiligheidsbeampte vir die skool, het gesê die skool wil wys genoeg is genoeg. "Ons wil vir die gemeenskap wys dat ons misdaad wil bekamp. Misdaad plaas druk op die skool se hulpbronne."
Die booswigte kry maklik toegang tot die skool se terrein. Selfs gedurende skoolure en dit maak dit moeilik vir die onderwysers om hul pligte uit te voer.
Dudley Schoeman, hoof van die skool, het gesê hulle wil sien dat elke kind gelukkig en veilig is by die skool. Die gemeenskap moet bewus wees dat die skool op hulle steun. Die skool moet gesien word as 'n baken van hoop vir die hele gemeenskap. Elke rolspeler moet betrokke raak by die skool sodat mense kan weet die skool is 'n veilige hawe vir elke kind.
Neville Louw, wyksraadslid vir wyk 20 in wie se wyk die skool is, het gesê vandalisme, misdaad, diefstal en geweld is 'n groot probleem in die wyk. Die geleentheid is deel van bewusmaking en die gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir die bekamping van die situasie. Almal moet hande vat. Dit raak almal en dit rus nie net by die personeel van die skool nie.
Die leerlinge stap al langs die grensdraad tydens die pretloop.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'