Elvin Williams het op 1 Maart in die Memoriam-begraafplaas begin werk.
GEORGE NEWS - Die George-stadsraad is besig om ‘n nuwe begraafplaasbeleid te formuleer om verskeie probleme op dié gebied aan te spreek.
Radie Loubser, projekbestuurder van parke en rekreasie by die George-munisipaliteit, sê daar word gekyk na oplos-sings vir ‘n verskeidenheid uitdagings.
Loubser sê dit is byvoorbeeld ‘n groot kopseer om mense wat lank reeds dood is se grafte op te spoor. "Naasbestaandes kom verneem na jare waar ‘n familielid of vriend begrawe is en dan is dit haas onmoontlik om die spesifieke graf op te spoor.
"Sommige grafte het nooit ‘n permanente grafsteen gekry nie en deur die jare het die houtkruisies verrot en gedisintegreer.
"Hoewel ons rekords het en byvoorbeeld kan sê ‘n persoon is in graf B7 begrawe, kry jy dalk ry B, maar om te sê presies waar 7 is, is ‘n onbegonne taak. As elke graf elektronies met behulp van GPS-koördinate vasgelê word, sal ons probleem eens en vir altyd opgelos wees."
Hy sê die begraafplase is ook besig om vinnig vol te raak. "Op die oomblik begrawe ons sowat 30 mense per maand in die Yorkstraat-begraafplaas en teen hierdie sterftetempo is daar vir nog sowat 10 jaar plek. Die tempo versnel egter elke jaar."
Met die bevolkingsaanwas word plek al hoe minder en waardevolle grond wat vir behuising of industrieë gebruik kan word, moet plek maak vir grafte. "Dit is nie volhoubaar nie en ons het ‘n kenner in George nodig om ons vir so ‘n paar dae te kom adviseer oor die pad vorentoe."
Loubser sê mausoleums is ‘n moontlike oplossing. "Die stad Kaapstad het reeds sy eerste mausoleum geopen om op dié manier grafspasie beter te benut."
Omdat ‘n mausoleum voorsiening daarvoor maak dat kiste in betonstrukture bogronds opmekaar gehuisves word, kan vele meer liggame op ‘n tradisionele graf-area geakkommodeer word. Dit is al talle eeue in gebruik en sal ook terselfdertyd ’n oplossing bied in die Yorkstraatbegraafplaas waar die watertafel baie vlak is.
Instandhouding
Instandhouding van die agt begraafplase in George is ook ‘n netelige kwessie en aan die begin van Januarie het die gras in talle begraafplase plek-plek skouerhoogte gestaan.
Dit lyk egter of die instandhoudingsprobleme vir eers iets van die verlede is. Loubser sê vier kontrakteurs is aangestel om die finale rusplekke te versorg. "Die kontrakteurs is op 1 Maart aangestel en die kontrakte is geldig tot Junie volgende jaar. Vyftien werklose mense werk op ‘n driemaandelikse rotasiebasis vir die vier kontrakteurs, so dit lei darem ook na werkskepping."
Elke drie maande word 15 nuwe werkers uit die gemeenskap geïdentifiseer wat weer op hul beurt ná drie maande plek maak vir 15 ander werkloses.
Loubser sê vandalisme bly ‘n probleem en dat grafstene omgegooi en afgebreek word. "Mense moet ook nooit alleen ‘n geliefde se graf na-ure besoek nie. Ongewenste elemente het al in die verlede die verskeie begraafplase vir booshede soos roof en verkragting gebruik."
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD
Posted on: 00:00 Thu, 17 March 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: