GEORGE NUUS - Wilfred Impondu (45), 'n geliefde inwoner van Groeneweide Park in George, is Vrydagoggend, 24 November omstreeks 08:30 op pad na Uitenhage in 'n motorongeluk oorlede.
Die ongeluk het op die N2, net buite Humansdorp, gebeur toe Impondu, 'n werknemer van FVS Security, na bewering beheer oor sy BMW verloor en in 'n aankomende vragmotor vasgery het.
Hy is op die toneel dood verklaar.
Die bestuurder van die vragmotor en dié se passasier het slegs geringe beserings opgedoen. 'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Volgens die reaksie op sosiale media is dit duidelik dat Impondu geliefd was en dat sy vriende en kollegas hom baie sal mis.
'n Roudiens vind vanaand (Donderdag 30 November) om 18:00 in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal plaas en die begrafnis Saterdag in by die Ou Apostoliese Kerk in Uitenhage. Impondu laat sy vrou, Deidre, en drie seuns agter.
Die ongelukstoneel op pad na Uitenhage.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'