GEORGE NUUS - In Februarie vanjaar het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aan George Herald bevestig dat die distrikskantoor bewus is van die benarde situasie van Hibernia Primêre Skool waar oorvol klasse en verouderde mobiele klaskamers 'n uiters ongesonde leeromgewing tot gevolg het.
Die departement het toe gesê dat vier mobiele klaskamers aangevra is as vervanging van bestaande klaskamers. Ná bykans agt maande is daar nog geen taal of tyding van hierdie klaskamers nie.
Volgens Charlie Bob, die skool se bestuursliggaamvoorsitter, is die skool se mobiele klaskamers reeds in 1985 opgerig as 'n tydelike maatreël totdat permanente klaskamers aangebou kon word.
Hy sê hierdie klaskamers is nie eens meer op die departement se databasis nie en hulle het al tot so 'n mate agteruitgegaan dat groot openinge tussen die vloer en muur ontstaan het. Die vloere is ook besig om te verweer.
Die hoofgebou is in 1955 opgerig en benewens die mobiele klaskamers wat bygekom het, is die skool nie uitgebrei nie, terwyl die gemeenskap geweldig gegroei het. "Die behoefte is nou baie groter.
Ons het tot 48 kinders in 'n klas, wat individuele aandag onmoontlik maak. In van die klaskamers in die hoofgebou is vrot vloerplanke ongeveer twee jaar terug met hardebord toegeslaan om dit begaanbaar te maak. Dit is totaal onaanvaarbaar.
"Ek het al briewe aan die departement geskryf om hulle te laat verstaan dat as 'n opvoeder of leerder beseer word as gevolg van die toestand van die infrastruktuur, hulle volle verantwoordelikheid daarvoor sal moet dra. Ek het geen antwoord of erkenning van ontvangs gekry nie," sê Bob.
Bou-inspekteurs van die George-munisipaliteit het die skool laat verlede jaar besoek in opdrag van die departement om die toestand van die geboue te evalueer. Amptenare van die Openbare Werke-departement het ook die skool besoek vir 'n opname.
"Ons het daarna egter nie 'n woord gehoor nie. Ons agtergeblewe skole word net agtergelaat en ek sou dink ons behoort juis voorkeur te geniet."
In Februarie het die departement aan die koerant gesê dat 53 skole in George onder sy jurisdiksie val en dat daar eers na die behoeftes van al die skole gekyk word voordat bykomende mobiele klaskamers en onderwysers toegeken word.
Die departement se kommentaar oor die vier klaskamers wat vir Hibernia Primêr aangevra is, word afgewag en sal aanlyn gepubliseer word sodra dit verskaf word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'