GEORGE NUUS - Daar is nie sprake van ‘n bykomende brande-heffing vir inwoners van die Suid-Kaap nie. So het Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en DA-voorsitter in die provinsie, Vrydag by navraag aan die George Herald gesê.
Hy het kommentaar gelewer na aanleiding van opmerkings wat Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, gemaak het tydens ‘n Brande-werkswinkel. Die George Herald het Donderdag eerste daaroor berig.
Booysen het onder meer voorgestel dat ‘n aparte heffing ingestel word om die kostes van brande te dek. Die geld kan dan gebruik word vir die kostes van brandbestryding en skade aan eiendom.
Volgens Bredell is hy en die DA gekant teen enige verdere vorm van belasting in die verband. “Daar is nie ‘n tekort aan fondse nie. Die debatte moet gaan oor die bestuur en prioritisering van fondse.
“Ons is reeds oorbelas as ‘n nasie en korrupsie is die euwel wat uitgewis moet word,” het Bredell gesê.
*Lees aanstaande week ‘n volledige berig in die George Herald.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'