GEORGE NUUS - Die gewilde Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) in George, gaan nie vanjaar plaasvind nie. Die plan was om dit in September of Oktober te hou, maar Covid-19 het die plan gekelder. Verlede jaar is die OCC in Februarie gehou, kort voor die begin van die Covid-19-pandemie.
Alewijn Dippenaar, geleentheidsdirekteur, het by navraag gesê hulle wil dit weer in Maart 2022 aanbied. "Dis bloot gedoen omdat ons versigtig is vir verspreiding van die virus."
Beplanning vir aanstaande jaar se geleentheid het reeds begin en dit sal weer by Carpe Diem onder die vaandel van die Disabled Road Race Foundation plaasvind. Dit is die eerste keer in 2020 daar gehou en was 'n groot sukses. Meer as 600 atlete het deelgeneem.
Dippenaar wil atlete van oor Suid-Afrika lok en hoop dat OCC 2022 sowat 1 000 inskrywings sal sien.
Die organiseerders hoop om dié wedrenjaar te registreer as 'n Suid-Afrikaanse kampioenskap.
As dit gebeur, sal dit die wedren se status verhoog en deelnemers sal punte kan verwerf om te kan kwalifiseer vir soortgelyke internasionale geleenthede.
Die George-munisipaliteit sal weer betrokke wees en die plan is om die geleentheid te laat voorafgaan deur kompetisies in sportkodes soos tafeltennis en basketbal.
Dippenaar sê die finale datum sal later aangekondig word, maar dit sal heel moontlik op die eerste of tweede naweek van Maart val. Hopelik sal daar in daardie stadium geen beperkings wees op deelnemergetalle nie.
Hy het gesê daar is 'n groei in rolstoelsport en George wil deel daarvan wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'