GEORGE NUUS - Sakeondernemings, veral in die gasvryheidsbedryf, steier nadat hulle nie 'n goeie vakansieseisoen beleef het nie. Daar is nou kommer dat die impak later nog meer negatief gevoel gaan word.
Outeniqua Tourism Association
Michael Cooker, voorsitter van die Outeniqua Tourism Association, het gesê hy het nog nooit so 'n swak seisoen beleef nie. Hy is nou 17 jaar in die gebied. "Ek het nog nooit so 'n klein vraag na verblyf beleef nie.
Toerisme bestaan nie in die gebied nie en die toekoms is baie onseker. Ons almal is in 'n stryd om oorlewing." Volgens hom het die sluiting van die strande bygedra tot die situasie.
AHi Wes-Kaap
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die terugvoering wat hy kry is dat veral die gasvryheidsbedryf swaargekry het. In vergeleke met die ooreenstemmende tyd die vorige jaar, was daar 'n afname van 30% tot selfs 90% in getalle.
Dis net logies dat dit 'n rimpeleffek gehad het ook op dienstemaatskappye soos wasserye en onderhoudsdienste.
Volgens hom was daar tydens die inperking verlede jaar groot kommer dat ondernemings net moes oorleef met die hoop om in Desember 'n goeie seisoen te kry. Dit het nie gerealiseer nie.
Die eerste paar weke in Januarie is tradisioneel 'n goeie seisoen vir buitelandse toerisme. Dit realiseer op die oomblik ook nie. Die gebeure gaan 'n verdere negatiewe impak op groei hê.
Hy is bewus van sakeondernemings wat reeds gesluit het en daar is nog wat kan sluit. Die sluiting van die ondernemings sal 'n negatiewe impak op ekonomiese groei beteken en beslis lei tot werksverliese.
Sakeondernemings in verskeie sektore in George gaan gebuk onder verswakte ekonomiese aktiwiteit weens die Covid-19-inperkings.Foto: Alida de Beer
George-sakekamer
Volgens Ingrid Cronjé, uitvoerende hoof van die George-sakekamer, het die gasvryheidsbedryf gesukkel. Die verbod op die verkoop van drank het 'n groot impak gehad. Mense wat gaan uiteet het, kon nie 'n drankie saam met 'n maaltyd bestel nie.
Die verbod op besoeke aan strande het ook 'n groot impak gehad. Die sakekamer het oproepe van oor die land ontvang. Van die mense het gesê hulle het hul besprekings al 'n jaar voor die tyd gedoen en het dit nou gekanselleer.
Garden Route Mall
George Herald-joernalis Alida de Beer het by Rion Olivier, bestuurder van die Garden Route Mall, verneem dat hulle nie 'n goeie seisoen beleef het nie. Hy skryf dit toe aan die strande wat vir besoekers gesluit was en kansellasies vir akkommodasie.
"Dit het tot gevolg gehad dat voetverkeer by ons af was met 29% en omsette met 18% vir Desember, vergeleke met 2019."
Restaurante, haarsalonne, reisagente en Ster-Kinekor kry swaar. "Ons staan hulle egter by en neem hande met die situasie. As 'n mens na die kwartaal kyk, was Oktober se syfers op met 7,5% hoewel voetverkeer vir die maand af was met 10%. November was af met 3% terwyl voetverkeer met 24% verminder het vergeleke met die vorige jaar.
"Sekere winkels het wel goeie voordeel getrek uit Black Friday, 'n ou staatmaker, maar het ons nie 'n hupstoot soos in die verlede gegee nie," het Olivier gesê.
Kloppers
Willem Kloppers (senior), eienaar van Kloppers in George het gesê die onderneming het wel groot groei getoon as vergelyk word met ooreenstemmende tyd die vorige jaar. Die feit dat mense byvoorbeeld nie strand toe kon gaan nie, het beteken dat dié wat geld gehad het, dit op onder meer huishoudelike ware bestee het.
Dit was besoekers en plaaslike mense. Mense het byvoorbeeld meubels en breekware gekoop.
George Toerisme-bestuurder Joan Shaw het by navraag gesê George en Wildernis het ‘n stil vakansieseisoen gehad.
"Ons was oorspronklik optimisties omdat besprekings goed gelyk het na die eerste golf van Covid-19, maar nadat die Tuinroete tot ‘n brandpunt verklaar is, en daarna die toemaak van strande, was daar baie kansellasies.
"Dit was en is vir ons baie moeilik en frustrerend, en ons verwag dat dit vir nog ‘n ruk so mag wees. George Toerisme gaan voort om ons lede te ondersteun en om George en die Tuinroete te bemark waar ons kan."
'n Strand by Wilderness is verlate tydens die afgelope vakansieseisoen. 'n Verbod op besoek aan strande het tot gevolg dat minder mense die gebied besoek het.
Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'