GEORGE NUUS - Flip de Swardt, oudburgemeester van George, het Saterdag 7 November sy 80ste verjaarsdag by die Kwagga Cuisine, Hoërskool Outeniqua gevier omring deur familie en vriende.
Dit is dieselfde skool waar hy destyds op die skoolbanke gesit het en later ook senior adjunkhoof was. Hy was 37 jaar by die skool - vyf jaar as leerling en 32 jaar as personeellid.
Van die gaste het van so ver as die Paarl, Stellenbosch en Krugersdorp gekom en onder hulle was ook oudkollegas uit sy tyd as onderwyser en politikus.
Aanwesiges kon nie anders as om te glimlag toe daar vertel is dat hy in sy 80 jaar nog nooit in 'n vliegtuig gevlieg het nie. Dit is een van die min vrese wat hy het.
Sy kleindogter, Carien Haupt, het meer vertel van haar oupa wat jare gelede saam met haar na die televisiereeks, Heidi gekyk het. De Swardt se dogter, René Haup, het vertel van hoe lief haar pa vir George is, en dat hy nie maklik na agter die Outeniquaberge in sy lewe gereis het nie.
Omring deur familie en vriende het Flip de Swardt (regs), oudburgemeester van George, Saterdag 7 November sy 80ste verjaarsdag by die Kwagga Cuisine, by sy alma mater Hoërskool Outeniqua, gevier. Onder die gaste was nog 'n oudburgemeester van George en oudleerling van Hoërskool Outeniqua, Louis van Rensburg (links). By hulle is De Swardt se vrou, Rina.
De Swardt het later gesê dit was 'n besonderse dag vir hom. Dit was wonderlik om die talle familie en vriende daar te hê. Hy is geensins van plan om op die stoep te sit nie, al is hy 80 jaar oud. Hy is nog betrokke in die gemeenskap.
Hy is dankbaar dat hy as stadsraadslid iets kon terugploeg vir George waarvoor hy so lief is. En ja, hy het nog nooit gevlieg nie. "Ek is maar skrikkerig vir hoogtes. As ek eendag êrens heen moet vlieg, sal ek in 'n vliegtuig klim."
Flip de Swardt tydens Saterdag se geleentheid waar sy 80ste verjaarsdag gevier is. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'