GEORGE NUUS - Jy sal ver soek om iemand met meer kennis van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) te kry as Flip de Swardt.
Die 82-jarige De Swardt was op sy dag 'n leerling, onderwyser, koshuisvader en senior adjunkhoof by die skool.
Ofskoon hy reeds in 1997 by die skool klaargemaak het, word hy vandag nog onthou vir sy lang verbintenis van 70 jaar by die instansie. Oor die jare het hy letterlik duisende leerlinge sien kom en gaan.
In die dae wat die skool se 100-jarige feesvieringe 'n hoogtepunt bereik het, het hy in 'n onderhoud met George Herald met nostalgie teruggedink.
De Swardt het in George grootgeword en sy hoërskoolloop-baan in 1954 by Kwaggas begin. In 1958 het hy sy matriek voltooi en hom daarna ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch. Sy plan was om 'n myngeoloog te word. Tydens sy studies het hy besluit om ook 'n onderwyskwalifikasie te verwerf. Na sy studies het hy onderwys gaan gee in Beaufort-Wes waar hy ook sy vrou, Rina, ontmoet het.
In Junie 1966 het hy uiteindelik sy pad teruggevind na Kwaggas as 'n wiskunde- en wetenskaponderwyser.
In daardie dae het sy paaie ook gekruis met 'n latere groot vriend, Louis van Rensburg. Van Rensburg was destyds in st. 7 en het ook onderrig by De Swardt ontvang.
Op 25-jarige ouderdom was De Swardt ook koshuisvader en dit was 'n uitdaging. Hy was net 'n paar jaar ouer as baie van die seuns.
Dit was deur De Swardt se toedoen dat die koshuis, Beyers-tehuis se finansies sterker geword het. As koshuisvader het hy gereël dat groente aangeplant word. Die seuns moes help en vir lank was dit nie nodig om groente te koop nie.
Volgens De Swardt was dit nie moeilik om van oudleerling aan te pas na onderwyser by die skool nie. "Ek was 'n pligsgetroue leerling en ek en my oudonderwysers het goed oor die weg gekom."
Hy was 'n streng onderwyser en later was hy oorhoofs verantwoordelik vir dissipline. En ja, hy het by tye die lat goed ingespan. "Ek is 'n wit/swart mens."
Oor die jare het hy as leerling en later as onderwyser met ses van die skool se nege hoofde te doen gehad.
Hy het gesien hoe die skool groei en verander.
Daar is baie dinge wat hy onthou soos byvoorbeeld dat die skool aanvanklik 'n dubbelmediumskool was.
In 'n stadium was daar ook 'n landbou-studierigting soortgelyk aan by 'n landbouskool. Die leerlinge was verantwoordelik vir die plaasdiere soos die varke en beeste. Op 'n dag was een van die koeie, Blommetjie, ongesteld. Die landbouonderwyser het toe gebid vir haar herstel.
De Swardt onthou ook die onderwysers se byname: Rocket, twee broers, Groot bees en Klein bees en Broodkas. Daar was ook 'n onderwyser wat deeltyds met hoenders geboer het. Sy bynaam was Slagos.
Die onderwyser se vrou was ook 'n onderwyser en haar bynaam was Hoenderpiep. Sover hy weet het hy nie 'n bynaam gehad nie.
In Desember 1997 het hy die onderwys verlaat en hom in die privaat sektor begeef. Nog later het hy die politiek betree waar hy onder meer burgemeester van George was.
Hy het goeie herinneringe van die skool en sal dit vir niks verruil nie.
"Ek is bly vir die invloed wat ek op kinders se lewens gehad het. Outeniqua is my eerste en enigste skoolliefde. Daar is nie nog so 'n skool in Suid-Afrika nie. Die inwoners van George kan trots wees op so 'n skool."
Flip de Swardt met 'n foto van 1969 se matrieks en onderwysers. Hy was toe 'n onderwyser by die skool. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’