GEORGE NUUS - Flip de Swardt, ‘n senior lid van die munisipale ouditkomitee, het bedank.
De Swardt is een van George se bekendste inwoners. Hy was in die verlede onder meer burgemeester en het ook meer as drie jaar op die komitee gedien.
Hy het kort gelede by navraag gesê hy gaan nie in die stadium kommentaar lewer nie.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het vroeg Dinsdagoggend, gesê hy is bewus van De Swardt se bedanking, maar gaan nie daaroor kommentaar lewer nie.
Die jongste gebeure kom teen die agtergrond van woelinge rondom die komitee wat die afgelope tyd nie tot ruste wou kom nie.
Dit het ‘n tydjie gelede gegons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens die maandelikse stadsraadsvergadering wat voorsiening maak vir die aanwysing van 'n nuwe voorsitter.
In die item is onder meer voorgestel dat De Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee sou word. Hy dien al meer as drie jaar in die komitee en is onlangs aangestel vir nog 'n termyn. In die item is ook voorgestel dat Christo Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien.
'n Afskrif van 'n brief, "Fluitjie blasers dus is ons identiteit nie bekend nie" gedateer 29 Mei, is in Junie vertroulik aan die koerant gegee. Die brief is glo aan Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad en Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, gestuur.
Daarin is onder meer beweer dat daar politieke inmenging is in die aanstelling van lede van die ouditkomitee.
Van Wyk het daarna gesê hy is nie bewus van die brief nie. Hy het toe benadruk daar was en is nie politieke inmenging nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'