Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hoop, wees die hoop, steek jou hande uit na mekaar. So gaan die lirieke van Jo Black se liedtjie, Bring die hoop weer terug, wat Saterdag, Junie 23, die gees onder Hoërskool Outeniqua se Impak-portefeulje gebou het voor hulle die 525 km-fietstoer, vanaf George na Worcester, aangepak het.
Trotse ouers en onderwysers het die leerders by Hoërskool Outeniqua afgesien voor hulle vertrek. Kwaggas het die fietstoer in samewerking met Solidariteit Helpende Hande aangepak ter ondersteuning vir minderbevoorregtes en om 'n preprimêre klas vir Laerskool Herold, wat sowat 30km buite George geleë is, te bou.
Ruben van Eck van die Impak-portefeulje, sê die die doel van die fietstoer is ook om hoop weer terug te bring.
Hoërskool Outeniqua se adjunkhoof van akademie, Chris Hattingh, het die deelnemers vir hulle moed geprys, "Om 'n verskil in 'n ander mens se lewe te maak sal 'n verskil in jou eie lewe maak."
Hattingh het die groep gemotiveer vir hulle lang reis met die lirieke van Bring die hoop weer terug, "Jy's die lig in die donker gang, jy's die baken wat op die heuwel staan," wat hand aan hand gaan met die skoollied se woorde, "roem van skole bron van lig."
Die groep het uit 25 leerders en onderwysers bestaan wat die fietstoer aangedurf het. Ses persone sal per skof ry en elke dag sal daar sowat 100 km afgelê word.
Die groep het verkeersbegeleiding tydens die fietstoer geniet. Elandi Rautenbach, Impak-portefeulje organiseerder, bedank die borge wat die fietstoer moontlik gemaak het, Jatro Vleismerinos, Botlierskop, Piet du Toit Wildbedryf, Acme Tool Hire, Cat Signs, 3@1, Ride Life en SFM.
Kyk 'n video hieronder:
Kwaggas het die fietstoer in samewerking met Solidariteit Helpende Hand aangepak. Leerders van Laerskool Herold het die eerste dag van die fietstoer saam met die groep beleef.
Die fietstoer het amptelik vanaf Hoërskool Outeniqua vertrek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'