GEORGE NUUS - Vyf minute in gesprek met die legendariese Elsie Pells en jy verstaan presiés hoekom sy 'n Kaapse wynmeester is. En dan besef jy dat dit wat jy gedink het jy weet van wyn is eintlik minder as 'n druppel in die emmer.
Dié bekroonde internasionale wynbeoordelaar het al reg oor die wêreld gereis en soms aan die uithoeke van die aarde gestop om wyn te proe. Sy het onlangs ook 'n draai gemaak by haar alma mater, Hoërskool Outeniqua, waar sy as geleentheidspreker tydens hulle jaarlikse wynveiling op Saterdag 17 Oktober opgetree het.
Pells se loopbaan in die aromatiese wêreld van wyn het in 2000 begin toe sy met 'n tesis oor brandewyn 'n Kaapse wynmeester geword het.
Daarna het sy vir sowat vyf jaar by NMK Schultz Wine Distribution in Johannesburg en Kaapstad gewerk en vandag is sy 'n wêreldbekende wynverskaffer, koper, konsultant, skrywer en internasionale beoordelaar.
Sy woon in Kaapstad maar spandeer so drie of vier maande per jaar in Praag as 'n aandeelhouer by House of Wine SRO, waar sy verantwoordelik is vir die maatskappy, wat grootliks op Suid-Afrikaanse wyn fokus, se internasionale wynportefeulje. Pells beoordeel steeds oorsee.
Sy is in Sabie gebore, maar op het op Knysna grootgeword. Sy was 'n leerder aan Hoërskool Outeniqua waar sy in 1969 gematrikuleer het. In 1981 word sy een van die stigterslede van die Spier Jonkershuis-wynproeërs, onder leiding van Neil Joubert.
"Neil was een van my mentors en ek het my tande op wonderlike wyne gesny, maar ek is van nature 'n nuuskierige mens en wil altyd die stert ook sien, nie net die kop nie. Daarom het ek in die vroeë 90's besluit om my Cape Winemasters-kursus te doen," vertel Pells.
Sy is 'n spesialis in Nieu-Seelandse en Australiaanse wyne en haar fenomenale kundigheid op haar vakgebied het haar na wynstreke soos Bordeaux, Cognac, Boergondië, Loire, Champagne, Rhône en Alsace geneem, om maar net 'n paar te noem.
In 2003 word sy aangewys as 'n Australasiese wynmeester gedurende 'n loodsprogram wat deur die Centre for International Wine Studies aan die Universiteit van Wes-Australië aangebied was. Sy het ook by verskeie universiteite in Amerika en Engeland lesings oor Suid-Afrikaanse wyn gegee.
"My wynpaadjie het my oral deur die wêreld geneem en ek was feitlik in elke wynland in Europa behalwe Rusland. Suid-Amerika is ook nog op my bucket list, maar ek glo 'n mens moet vir jouself 'n uitdaging oorhou om voor te leef," sê sy.
Pells het baie jare as professionele beoordelaar deurgebring en by verskeie internasionale kompetisies opgetree waaronder Mundus Vini in Duitsland, International Wine and Spirit Competition in Londen en Suid-Afrika, Vina Roku in Praag, die Praagse wyntrofee, Vino Llubljana in Slowenië en die Berliner Wein-trofee in Duitsland asook die Shiraz Challenge in Suid-Afrika.
"Ek het in 'n huis grootgeword met twee fantastiese kokke - my ma en my ouma. Hulle het my oor geure geleer en vandaar het ek 'n aroma-geheue ontwikkel.
"Een van die belangrikste dele van wynmaak is jou geheue en jy moet sensitief wees vir geure en aroma. Hoe meer jy dit oefen, hoe makliker word dit. Hoe meer jy draf hoe fikser word jy," sê sy.
Sy het ook baie goeie nuus vir wyndrinkers: "Die wynkwaliteit wêreldwyd was nog nooit so hoog soos nou nie. Verbruikers besef nie hoe gelukkig hulle is nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'