GEORGE NUUS - Vir die Meintjies-gesin van Rosedale sal Kersdag moontlik nooit weer goeie herinneringe bring nie.
“Mevrou, my broer is op Kersdag vermoor,” vertel Peter-John Meintjies se broer, Denvor aan George Herald-joernalis, Kristy Kolberg.
Volgens Meintjies is sy 19-jarige broer vroegoggend op 25 Desember verlede jaar in Rosedale deur een of dalk meer verdagtes oorrompel en met skerp voorwerpe aangeval.
“Hy was op pad huis toe ná hy by vriende gekuier het toe hulle hom van agter aangeval het. Hy is per ambulans hospitaal toe geneem, waar dokters vir etlike ure in die teater vir sy lewe baklei het,” vertel Meintjies.
Peter-John Meintjies is egter kort na die operasie in die waakeenheid geplaas waar hy aan sy wonde beswyk het.
“Ons as familie is gebroke. Hy is op ‘n gewelddadige, sinnelose manier uit ons lewens geruk en ons kan maar net hoop en bid dat geregtigheid sal geskied. Ons hoop dat die wet meer sal doen om sulke gewelddadige misdadigers aan die pen te laat ry om ons gemeenskappe te beveilig,” sê sy broer.
Volgens die familie is 'n verdagte kort na die voorval in hegtenis geneem. Hy is steeds in aanhouding en verskyn, Dinsdag 19 Januarie, in die George-landdroshof vir hul borgtogaansoek.
Pacaltsdorp-polisie is reeds verlede week genader vir kommentaar rakende die voorval, maar George Herald het nog geen kommentaar ontvang nie.
Foto’s: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'