GEORGE NUUS - Die man wat onlangs die George-sakekamer se voorsitterstoekenning ontvang het, Eric Philpott van Digifusion Signs, doen die naam van die straat, Hoopstraat, gestand waarvandaan hy die grootste deel van sy sake-aktiwiteite bedryf.
Van 'n baie klein begin 'n paar jaar gelede in 'n klein kantoortjie met 'n rekenaar en geen naskoolse kwalifikasie, het sy sake-aktiwiteite oor die jare aansienlik uitgebrei.
Hy het onlangs ook 'n toekenning van Fespa ontvang vir 'n driedimensionele drukker wat hy saam met 'n ingenieursvriend, Jacques de Wet, ontwikkel het. Hulle het self die masjien ontwerp, gebou en 80 daarvan is reeds verkoop.
Dit is 'n lang pad wat Philpott geloop het. Hy het in 1999 na George verhuis en onder meer by kleinhandelsgroepe gewerk. Op 'n stadium was hy verantwoordelik vir die verkoop van die advertensieruimte op een van sy werkgewers se voertuie. Tussendeur het hy ook visitekaartjies en reklameborde ontwerp en vervaardig.
Nadat sy aansoek vir 'n werksonderhoud by 'n motorhandelaar in Pretoria misluk het, was hy geforseer om self iets te doen.
Digifusion het sy deure op 1 Junie 2006 geopen. Die eerste maand se omset het slegs R15 000 beloop. Hy het trappie vir trappie geklim en dinge het beter gegaan. Natuurlik was daar terugslae.
Sy sake-aktiwiteite bestaan vandag onder meer uit Digifusion Signs George, Sky High Rentals, DFElements, Digifusion Mosselbaai en 3D Fusion met altesaam 28 mense in diens.
'n Wye verskeidenheid dienste word verskaf waaronder die ontwerp en vervaardiging van reklameborde en reklame-lugkaste, die druk en lasersny van houtelemente asook die uithuur van cherry pickers.
Eric Philpott (middel) saam met twee werknemers wat hom in een van sy maatskappye help. Links is Nosisa Makuyekwe en regs is Rhonelle Booysen.
Hy is baie opgewonde oor die driedimensionele drukker. Die idee het op 'n Sondagaand ontstaan toe hy saam met sy vrou na 'n televisieprogram oor driedimensionele drukkers gekyk het. Hy het besef daar is 'n behoefte in die mark en het saam met De Wet aan die werk gespring.
Eric Philpott by van die produkte wat met die nuwe driedimensionele drukker gemaak is.
Die masjien kan reklamemateriaal druk wat 130 mm hoog is. Buiten die 80 wat reeds verkoop is, stroom die navrae in. Dit verkoop teen sowat R200 000 elk.
Hy glo dit is die moeite werd om jou eie onderneming te begin, maar benadruk jy moet oor uithouvermoë beskik. "As jy val, moet jy bly loop."
Sy eie suksesfilosofie is goeie dienslewering, die opbou van vertroue en om mededingend te wees met pryse. "Die belangrikste van alles is egter om kwaliteit produkte te lewer asook naverkopediens.”
Eric Philpott by een van drukkers wat by sy maatskappy gebruik word.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'