Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Syferfonteiners wat hul intrek in hulle nuwe huise by die Erf 325-behuisingsprojek geneem het, glimlag steeds, ondanks verskeie probleme wat dinge nie altyd so maklik maak nie. Sedert die eerste 60 huise aan begunstigdes uitgedeel is was die lewe nie net maanskyn en rose nie.
George Herald het verlede Donderdag gaan inloer om self te gaan kyk hoe die nuwe eienaars daarna uitsien.
Toevallig was dit dieselfde dag wat die Wes-Kaapse premier Alan Winde en die minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, ook stilletjies 'n draai gaan maak het. Ons het mekaar ongelukkig gemis.
Van die klagtes sluit in probleme met riolering, elektrifikasie, sleutels wat op mekaar se voordeure pas en druppende pype. "As jy die toilet trek, dan stoot die water op by die stort of die drein aan die buitekant van die huis," het Lydia Watkins gesê. "Ons ketel se liggie het ook geflikker.
Fotogalery: Syferfonteiners bly lekker maar alles is nie sonskyn en rose nie
Die krag was 'n probleem, maar alles is intussen uitgesort." Volgens Achmad van Wyngaardt, nog 'n inwoner, het heelwat inwoners probleme met hul sleutels: "Jou bure se sleutel sluit dalk jou voordeur oop, of jy kan jou voordeur net van buite oopsluit, maar nie weer van binne toesluit nie. Dan moet jy by die agterdeur uitloop om die huis van voor te sluit. Ag, daai issue het ek sommer self opgelos, ek is mos 'n skrynwerker."
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Vernon Peacock, 'n komiteelid van Syferfontein, kan heelwat inwoners nie tans krag bekostig nie omdat die koopkontrakte nog nie gesluit is nie: "Hulle betaal tans peperduur, want hulle kan nog nie deerniskrag ontvang nie."
Direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het by navraag bevestig dat die munisipaliteit wel klagtes ontvang het, maar dat die persone na die provinsiale departement verwys is.
Een van die huise in die behuisingsprojek, Erf 11920, is geïdentifiseer as 'n huis waar inwoners klagtes kan rapporteer. "Die Wes-Kaapse departement het onderneem dat daar elke dag iemand sal wees om die klagtes te hanteer," het Lubbe gesê.
Inwoners Lydia Watkins en klein Mira Davids stop vir 'n foto saam met Achmad van Wyngaardt.
Koopkontrakte
Volgens Lubbe is die subsidie-bedrae vir die koopkontrakte verlede Maandag 26 April vanaf die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings ontvang.
"Ons is dus in proses om die koopkontrakte en magtigings vir die eerste 66 huise wat oorhandig is, voor te berei. Ons sal in die komende week die eiendomme besoek om met hierdie eerste groep te teken," het hy gesê.
"Skrywes sal daarna aan al die ander begunstigdes gestuur word om hul koopkontrakte en magtigings by ons kantore te kom teken, voor hul nog die eiendomme betrek. Dit neem ongeveer drie maande voor persone hul aktes sal ontvang, vanaf wanneer hulle geteken het."
Perderuiters Johnny-boy en Brendan Jacobs gallop deur die splinternuwe behuisingsprojek langs Rosedale.
Klagtes
'n Woordvoerder van die Wes-Kaapse departement, Muneera Allie, het by navraag verduidelik dat al die prosesse aan begunstigdes tydens 'n behuisingsverbruikerssessie (Housing Consumer Education) verduidelik is, alvorens hulle hul sleutels ontvang het. Hierdie spesifieke sessie is op 16 April met goedgekeurde Erf 325-begunstigdes gehou.
"Alle prosesse rakende koopkontrakte, die proses om verslag te doen, aansoek om deernis tarriewe/dienste en toegang tot dienste soos elektrisiteit is aan begunstigdes verduidelik," het Allie gesê. "Gedurende hierdie sessie word begunstigdes ook uitgenooi om vrae te stel voordat hulle hul sleutels ontvang. 'n Opvolgsessie word later met begunstigdes gehou om prosesse te vergemaklik."
'n Modderput waar pogings aangewend is om dreine te ontblok.
Punte van belang
• Die periode om klagtes aan te meld 30 dae vanaf die datum waarop 'n begunstigde hul intrek geneem het. Alle haakplekke moet aan die kontrakteur op die terrein gerapporteer word, wat daaraan aandag sal gee. Begunstigdes kan soggens klagtes aanmeld by Erf 11920 ('n spesifieke enkele groen huis op die perseel).
• Amptenare sal met begunstigdes kontak maak rakende hul koopkontrakte. Hierdie proses duur gewoonlik ongeveer drie weke vanaf die datum van besetting.
• Sodra 'n begunstigde die koopkontrak ontvang en onderteken, kan hulle 'n aansoek indien vir deernistarriewe vir sommige dienste. Alle begunstigdes kan intussen elektrisiteit koop. Deernistariewe begin sodra die koopkontrak onderteken is en die deernisaansoek afgehandel is.
Achmad van Wyngaardt: "Ons is baie dankbaar vir ons huise, daar is net 'n paar goed wat ons nie self kan fix nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'