GEORGE NUUS - 'n Spazawinkel in die Erf 325-behuisingsontwikkeling naby Rosedale, wat glo deur buitelanders bedryf word, is tans onder die vergrootglas.
Beweringe oor die verkoop van dié staatsgesubsidieerde huis, sowel as enkele ander in dieselfde woongebied, wat glo ook deur buitelanders as winkels bedryf word, het reeds 'n wye draai gegooi.
Klagtes het George Herald bereik en na 'n paar oproepe blyk dit dat verskeie gemeenskapsleiers reeds besig is met hul eie ondersoeke. George-munisipaliteit het ook intussen klagtes ontvang en vandeesweek 'n ter plaatse ondersoek begin. "Volgens die persone wat in die huis gevind is, het die eienaar blykbaar intussen werk in Port Elizabeth gekry en kom hy op hierdie stadium slegs eenmaal 'n week huis toe. Blykbaar bly sy meisie en haar vriendin ook in sy afwesigheid in die huis," het munisipale direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, gesê.
"Die geval sal intussen na die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings verwys word, aangesien die bewoners ook geen reg het om 'n ander persoon magtiging te gee om 'n besigheid uit die woning te bedryf nie."
‘n Woordvoerder van die provinsiale department van menslike nedersettings, Muneera Allie, sê die departement het nie beheer oor die toekenning van eenhede aan gekwalifiseerde begunstigdes nie.
“Die betrokke munisipaliteit ken eenhede toe op grond van die databasis vir behuisingsvraag in die spesifieke gebied. 'n Ontvanger van 'n regering-gesubsidieerde eenheid is verplig om gedurende die huidige beleid vir 'n tydperk van 8 jaar in die huis te woon. Sodra 'n eenheid oorhandig word, is dit die verantwoordelikheid van die kwalifiserende begunstigde en die munisipaliteit om te verseker dat die beleid nagekom word.”
“Sulke voorvalle is egter dikwels moeilik om te monitor, aangesien die meeste onderverhuring en verkope informeel plaasvind. Slegs waar regeringsowerhede in kennis gestel word of klagtes ontvang, kan hulle dan spesifieke sake ondersoek.”
Op ‘n vraag of sulke voorvalle gereeld by nuwe behuisingsontwikkelings voorkom het Allie gesê die departement was bewus van enkele soortgelyke gevalle en het in sulke gevalle ondersoek ingestel na individuele eise. “Dis uiters belangrik dat begunstigdes aan die hierdie behuisingsgeleentheid gebied is, om te verseker dat hulle hierdie bate waardeer. Daar is duisende wat verlang vir ‘n geleentheid soos hierdie en ons kan nie toesien dat persone wat wel die geleentheid gebied word nie die huis tenvolle benut nie. Deur jou huis uit te verhuur of te verkoop dui aan dat jy nooit ‘n behuisings behoefte gehad het nie.”
Huisbesoek
George Herald het Dinsdag by die einste huis besoek afgelê. Volgens Marcia April wat tans in die huis woon, kom sy van Johannesburg en het sy sowat twee weke gelede na die huis by Erf 12201 getrek. April het gesê haar suster, Shereen Andrias wat in George woon, het ook haar intrek daar geneem. "Dit is my kêrel, Andile Kunene, se huis, hy wil hê iemand moet 'n ogie hou omdat die ouens [buitelanders] nog 'n winkel het hier [onderste verdieping]. Ek hou self nie baie van die situasie nie. Hulle sou al getrek het," het April gesê. April het bevestig dat dit eintlik haar suster is wat verlede naweek ingetrek het, en nie vorige eienaars is wat uitgetrek het nie. 'n Video in die verband is verlede naweek wyd versprei onder Rosedalers wat bekommerd is oor die stand van sake.
Kyk die video hier:
Eienaar is boos
In 'n telefoniese gesprek met die huiseienaar, Mnr. Qumana, het hy bevestig dat hy die eienaar van Erf 12221 is, asook die eienaar van die huiswinkel op die grondvloer van sy huis. Hy weet nie hoekom daar verwarring is oor sy erfnommer nie, en skryf sy meisie se verkeerde spelling van sy van toe aan die feit dat hulle kulture verskil.
Qumana het kort na George Herald se huisbesoek hul kantore in Ringweg persoonlik besoek in 'n poging om sy kant van die storie te vertel. Hy was baie ontsteld oor die aandag wat sy huis tans trek. Volgens Qumana het hy inderhaas vanaf Port Elizabeth na George teruggekom weens die drama by sy huis. Hy het sy kommer uitgespreek oor die veiligheid van sy meisie met al die ongewenste besoekers wat kom rondvra oor hul doen en late. Oor die video van die naweek se "trekkery" het hy gesê dit is natuurlik om huisraad heen en weer te skuif wanneer 'n mens na 'n nuwe plek trek.
Verkoop is taboe
Lubbe het by navraag bevestig dat die eiendomme by Erf 325 nie tans verkoop mag word nie. Op 'n vraag of nuwe huiseienaars hul huise mag uitverhuur, het hy gesê huise word aan persone oorhandig om dit self te bewoon. "Geen van die nuwe ontwikkeling se eiendomme is geregistreer nie (behoort steeds aan George-munisipaliteit) dus kan niks wettiglik verkoop word nie."
Volgens Lubbe is dit baie moeilik om te bepaal wie die intensie het om hul huise te verkoop of te verhuur. "Die toekenningsbeleid bepaal wie die persone op die waglys is wat vir 'n behuisingsgeleentheid kwalifiseer," het hy gesê.
Lubbe het gesê indien daar bewyse bestaan dat 'n persoon sy eiendom sonder 'n wettige proses verkoop het word hierdie eiendom gederegistreer en aan die volgende persoon op die waglys toegeken: "Die naam van hierdie oortreders word dan ook aan die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings deurgegee sodat hulle van hierdie persoon kennis neem."
Verkoopsreg
Huise in ontwikkelings soos Erf 325 mag eers verkoop word wanneer die voorkoopsreg na agt jaar verval. "Al hierdie regte en oortredings word aan al die nuwe huiseienaars verduidelik in ‘n 'Housing Consumer Education'-sessie voor sleutels aan hulle oorhandig word," het Lubbe gesê. "Die klousule is juis ingebou om hierdie verkope te bekamp, maar word nog steeds bedryf. Ons het dan geen ander keuse as om die gevalle wat onder ons aandag gebring word aan die provinsiale regering van menslike nedersettings te rapporteer nie. Die oortreders vind innoverende maniere om die wetgewing te omseil."
Klousule in koopooreenkomste
12. Die koopkontrak is onderhewig aan die volgende statutêre voorwaardes opgelê in terme van Artikel 10A en 10B van die Wet op Behuising, Wet No 107 van 1997, ten gunste van die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap (Departement van Menslike Nedersettings), naamlik:
12.1 Die eiendom mag nie verkoop word of andersins vervreem word deur die oordragnemer binne 'n tydperk van 8 (agt) jaar vanaf die datum van verkryging nie, tensy dit eers vry van die betaling van enige vergoeding, aan die Departement van Menslike Nedersettings van die genoemde Provinsiale Regering aangebied is;
12.2 Die eiendom mag nie verkoop word of andersins vervreem word deur die oordragnemer se opvolgers-in-titel of skuldeisers in die wet nie, behalwe deur krediteure ten opsigte van die kredietverwante subsidie, tensy dit eers aangebied word aan die Departement van Menslike Nedersettings van die genoemde Provinsiale Regering teen 'n prys wat nie meer is as die subsidie wat die oordragnemer ontvang het vir die genoemde eiendom nie.
Ofskoon daar wel inwoners en huiseienaars is wat hul eie snoepie bedryf (soos hierbo), is die bron van kommer eerder gemik op diegene wat na bewering 'n huis van die staat ontvang het, en dit binne 'n ommesientjie weer verkoop het, of uitverhuur aan winkeliers.
Nog 'n spazawinkel in die behuisingsontwikkeling.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'