George-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, mnr. Charles Standers, het die knoppie gedruk om straatligte en beligting aan ongeveer 100 van die 904 beplande huise te voorsien.
In sy toespraak aan honderde inwoners het Standers gesê die Erf 325-ontwikkeling het ‘n besonderse, unieke en beduidende fase bereik, nie net deur die verskaffing van behuising nie, maar ook met die daarstelling van elektrisiteit en nou ook die aanskakel van die eerste fase se ligte.
"U weet lig word altyd geassosieer met openbaarmaking, met oplewing en verheldering. In Genesis 1 vers 3 het God gesê: "Laat daar lig wees" en die duisternis, die verborge en die donkerte het gewyk voor Sy ewigdurende lig."
Hierdie groot stap in die oprigting van Erf 325 is met vonkelwyn gevier deur die inwoners, terwyl Standers alle betrokkenes geloof het het vir hul toegewydheid en dienslewering. "Dit is tekenend daarvan dat die burgemeesterskomitee, veral rdl. Wilbur Harris, die portefeulje-raadslid belas met elektrotegniese dienste, asook ander rolspelers ag geslaan het op die uitroepe van die mense."
Standers het ook mnr. Kevin Grünewald, die direkteur van elektrotegniese dienste by die George-munisipaliteit, geloof vir sy effektiewe dienslewering.
"Die aanskakel van hierdie fase se ligte is slegs die voorganger van die verskaffing van elektrisiteit aan die rés van Erf 325," het Standers gesê.

Jonk en oud het toegekyk hoe die eerste fase van Erf 325 se ligte aangeskakel word.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS.