Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - ‘n Ererit ter nagedagtenis aan die voorsitter en een van die stigterslede van die Locals-motorfietsklub in George, Werner Kapp (59), vind vanoggend om 10:00 in die dorp se hoofstraat plaas.
Motorfietsryers word in groot getalle verwag om hul laaste eer aan Kappie te betoon, soos Werner Kapp alom bekend gestaan het. Kappie het op Woensdag 19 Julie vermoedelik aan ‘n hartaanval beswyk.
Die ererit begin aan die onderpunt van Yorkstraat, af in Knysnaweg, tot by Biker’s Church in Derdestraat, George-Oos. Die Motorfietsklub, Locals, is in 1994 deur Kappie, Rynie Munnik en Gerhard Pretorius in George gestig.
Volgens sy suster, Veronica Snyman, het haar broer drie jaar gelede Covid onder lede gehad. “Die Here het hom deurgedra. Sy longe en hart het skade gelei,” het sy gesê. Kappie se vrou, Gail Kapp, het hom die oggend in die sitkamer gevind. “Kappie was die wonderlikste mens met ‘n hart van goud. Hy het soveel vir ander mense omgegee. Almal wat kos nodig gehad het, het na sy huis in Bos-en-Dal gegaan.”
Dwarsdeur sy lewe het Kappie een groot liefde gehad, en dit was motorfietsry."Selfs deur sy siekte het hy steeds die wêreld vol op sy motorfiets gery. Dit was absoluut sy passie," het Veronica gesê.
Kappie was vir jare lank ‘n tronkbewaarder by die department van korrektiewe dienste in George en Johannesburg, en het vir die laaste aantal jare as nutsman hier en daar hulp verleen. Hy het die laaste drie jaar omgesien na sy vrou, Gail, wat drie jaar gelede na ‘n beroerte verlam is.
Kappie was die tweede jongste van 12 kinders. Hy word oorleef deur agt broers en susters, Monty Kapp, André Kapp, Lynette Nicholas, Tilla Snyman, Veronica Snyman, Frans Kapp, Gerrie Kapp en die jongste broer Hein Kapp. Kappie word ook oorleef deur sy vrou, Gail en Michael de Koning en sy gesin.
Sy verassingsdiens vind 11:00 vanoggend plaas.
VIDEO VERSKAF:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’