Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Derde boek het pas uit die pen van Emsie Martin, skrywer en teksredakteur van George, verskyn.
Die boek bevat 'n versameling van 180 Christelike dagstukkies en het dieselfde naam as die bemoedigende Facebook-groep, Olie vir jou lamp, wat sy in 2013 begin het waar sy daagliks 'n plasing met sowat 15 Facebook-vriende gedeel het.
Hierdie uiters gewilde groep het gegroei en het tans meer as 32 000 lede en die blad het 8 900 volgers.
Op versoek van lede van die groep het sy dit oorweeg om die dagstukkies in boekvorm uit te gee. Sy vertel dit was 'n tyd van wonder en oorweeg, en ook aanmoediging van 'n skrywersvriendin, Elize Parker, wat die skrywersdrif aangevuur het.
Olie vir jou lamp bevat dagstukkies wat maklik lees en bied geestelike inspirasie en bemoediging in moeilike tye wanneer 'n mens emosionele en sielsgerigte onderskraging nodig het.
Die skrywer deel waarhede oor leiding uit die Woord wat mense soms nie wil hoor nie, maar tog so nodig het. Dinge waarmee mense elke dag gekonfronteer word. Dinge wat ryk en arm raak.
"Mense het seer, mense kry swaar, mense steek dinge weg, mense dra maskers," sê Martin.
Emsie Martin vind altyd vreugde in die lewe. Foto: James Martin
Sy het mense se nood ondervind in versoeke om raad te gee oor seer, bitterheid, vergifnis, familietwis, 'n koue geestelike lewe, huweliksprobleme, verwerping, ontrou, selfdood van 'n geliefde, selfverwyt, afguns en die nagevolge van die Covid-19-pandemie en vele meer, alles relevante temas wat in haar dagstukkies na vore kom.
"Die doel van hierdie boek is om myself en ander te inspireer, te bemoedig en geestelik te versterk in geloof. Ek kon dit nooit op my eie doen nie. Slegs met die Here se leiding kan ek steeds elke dag 'n dagstukkie deel wat iewers daar buite 'n verskil in iemand se lewe maak. Wanneer jy 'n boodskap kry wat sê, 'dankie hiervoor dit was presies wat ek vandag nodig gehad het', word jou hart met warmte en dankbaarheid gevul", sê Martin.
Sy woon en werk in George en het in 2008/2009 twee boeke, Riversdal en Sy Mense Volume I en II, gepubliseer, was vryskutskrywer vir Vrouekeur tot hul sluiting tydens die pandemie, en het tot onlangs vir Solidariteit geskryf.
Sy is reeds besig met 'n moontlike opvolg vir Olie vir jou Lamp en werk verder aan 'n geestelike nie-fiksie boek. Sy is ook besig om Riversdal en Sy Mense op te dateer. "Ek is maar altyd aan die skryf," verstel sy in 'n onderhoud op Radio Namakwaland.
Sluit gerus aan by die groep of die Facebook-blad, Olie vir jou Lamp.
Olie vir jou Lamp is aanlyn te koop by www.lapa.co.za of jou naaste boekwinkel. Indien jy sukkel om dit te kry, skakel die skrywer by 082 840 8322.
VIDEO: Die Leef met LUCA: Olie vir jou lamp gesprek is lewendig op YouTube
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'