GEORGE NUUS - Elvis Blue is so dikwels weg van sy huis in George vir optredes dat dit vir hom en sy vrou, Chirése en dogters Lila en Jua behoorlik 'n fees was toe hy in Desember tuis was om by musiekfeeste aan die Tuinroete op te tree.
Hy sal volgende week op 5 Februarie terug wees op die tuisfront om sy koffiehandelsmerk bekend te stel by sy gunsteling koffiewinkel, Krust, in George.
Elvis, oftewel Jan Hoogendyk bieg dat hy nog steeds so passievol is oor musiek en liedjies skryf.
Sy jongste Afrikaanse album Die Brug is verlede jaar bekendgestel en hy werk reeds aan nog 'n Afrikaanse album.
Die musikant het 'n verfrissende dog praktiese uitkyk op geloof en die lewe.
"Geloof is nie vir my 'n fatalistiese vasgryp aan die idee dat ek net moet glo en sodoende iets laat gebeur nie. Eerder die wete dat ek oukei sal wees of dinge nou goed of sleg gaan met my."
Veelsydig
Elvis wat voorheen werksaam was by die Eden-gemeente, het nog steeds 'n goeie werksverhouding met die geestelike leier en sanger/skrywer Koos van der Merwe saam met wie hy verlede jaar na Israel gereis het om 'n 360°-ervaring opname te maak.
Elvis het die verfilming van die toer gedoen en Koos het opgetree as toergids.
Elvis verduidelik, "Die idee is dat mense saam met ons deur Israel stap deur middel van die toep (app) 360°-ervaring en Israel se belangrikste geskiedkundige bakens saam met ons ervaar."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'