Update
GEORGE NUUS - Beurtkrag is waarskynlik die rede waarom 'n besigheid in Meadestraat verlede Vrydag, 30 September, afgebrand het. Daar is absoluut niks van Rhino Linings oor nie. Die besigheid was gemoeid met rubbersproeiwerk vir bakkies.
Die aangrensende besigheid, Best Fit Glass, wat aan dieselfde eienaars behoort, het groot skade gely. Best Fit Glass is op die hoek van Meadestraat en Nelson Mandela-boulevard. "Die totale skade beloop miljoene," het Wouter Wentzel, een van die eienaars, gesê.
Die besighede behoort aan hom en sy vrou Erica Wentzel. "Twee bakkies van kliënte het uitgebrand; nog 'n kliënt se bakkie is beskadig en ons wag nog vir die beraming van die skade op die perseel van Best Fit Glass. Wat kostes betref gaan ons nog heelwat ongewenste verassings kry."
Volgens Wentzel is daar 'n vermoede dat 'n golf van elektrisiteit, na die afloop van beurtkrag, heel moontlik 'n smeuling of vonk iewers veroorsaak het, wat die brand laat ontstaan het.
"As 'n mens na die tydsraamwerk kyk, het die eerste tekens van die brand na die beurtkrag, wat van middernag tot 02:00 gestrek het, ontstaan. Teen 05:30 was die vlamme al hoog, maar die eerste smeuling moes heelwat vroeër begin het," het Wentzel gesê.
"Normaalweg sou daar nie voertuie van kliënte op die perseel oornag nie, maar met beurtkrag, wat die afgelope tyd twee keer per dag voorkom en 'n werksdag met vier ure verminder, is dit moeilik om op skedule te bly. Beurtkrag sit ontsettend baie druk op ons werklading."
Die Wentzels moes in die verlede al drie rekenaars weens beurtkrag vervang.
Na die brand is Best Fit Glass se deure weer oop vir kliënte, maar Rhino Linings het toegemaak tot verdere kennisgewing. "Dit is baie hartseer. Daar is 'n moontlikheid dat van die werkers afgelê moet word," het Wentzel gesê.
'n Assessor neem foto's na die brand by Rhino Linings verlede Vrydag 30 September.
Die skade op die perseel van die eienaars se aangrensende besigheid, Best Fit Glass, word beraam op sowat R1 miljoen. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'