Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Twee lede van 'n plaaslike gebedsgroep het besluit om eerstehands te ervaar waarmee haweloses te doen het wanneer hulle by besighede aanklop vir werk.
Dorothy Cedras, 'n personeelkoördineerder van Mosselbaai, het verlede Woensdag 'n dag verlof geneem om saam met Linda Smit, 'n berader van George, hierdie eksperiment uit te voer. Cedras en Smit het hulself vermom as haweloses en het bykans twintig winkels en besighede in George se middedorp besoek. Smit se bril was geplak met 'n pleister, sy het manskoene aangehad en 'n pruik gedra.
Haar klere was oud, maar skoon. "Ek het ook 'n 'blou oog' gehad, maar die grimering het later afgekom," het sy gesê. Die twee vroue het 'n drankwinkel besoek en goedkoop witwyn soos parfuum op hulself gesprinkel. "Ons wou nie te vars ruik nie," het Cedras gesê.
Ofskoon hulle twee ure soektog nie werk opgelewer het nie, het die meeste plekke hulle baie goed ontvang. Volgens Smit het sommige winkelassistente in hul moue gelag oor die twee se voorkoms, maar niemand het hulle weggewys of ongeskik behandel nie. Smit het 'n begeerte gehad om die eksperiment aan te pak na 'n gesprek met 'n hawelose vrou wat voor die George-landdroshof slaap.
"Sy het vir my gesê sy sal nie weer werk soek nie, want die mense se reaksies tydens haar vorige pogings het haar diep seergemaak," het Smit gesê. "Ek wou self voel hoe dit voel om soos 'n hawelose te gaan werk soek. My boodskap aan werkloses is: Sluk jou trots en moenie opgee nie, daar is hoop." Cedras wil op haar beurt leerders aanmoedig om hul skoolloopbaan te voltooi.
"By elke plek waar ons vir werk aangeklop het was dit duidelik - jy het minstens matriek nodig." Cedras en Smit is vol lof vir die besigheidslui in George. "Die mense se harte is oop vir hulp. Sommige het ons telefoonnommers gevra, ander het aan ons verduidelik wat hulle van ons benodig om in aanmerking te kom," het Smit gesê. "Die een vrou, 'n bestuurder van 'n klerewinkel, was besonder hulpvaardig. Sy het ons verwys na 'n kontakpersoon van die maatskappy wat hulle skoonmaakdiens verskaf."
Na die afloop van hul eksperiment het Cedras en Smit weer 'n draai gaan maak en hulle ware identiteit aan die bestuurder, Tracy Vermeulen, bekend gemaak. Vermeulen was uit die veld geslaan toe sy hoor waarmee hulle besig was. "Ek was opgewonde toe ek hulle weer sien, want ek het gedink Dorothy gaan my die goeie nuus vertel dat sy wel werk gekry het," het sy gesê.
"Jy lees iemand se gesig en dadelik kon ek sien dit is iemand met 'n sagte hartjie. Sy het gesê sy het 'n verkeerde pad geloop en probeer nou die regte dinge doen. Hulle het probeer, en dit is wat belangrik is."
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'