GEORGE NUUS - Die Rooirivierrif-klubhuis, sowel as die sportterrein, is beskikbaar vir verhuring van die Rooirivierrif-sportkomitee.
Ofskoon die klubhuis en gholfbaan vir langer as 'n dekade aan wyle Grobbie Grobler verhuur is, het die George-raad tydens hul laaste sitting besluit dat Grobler se vrou, Alet Grobler, 'n kennisgewing van uitsetting moet ontvang.
Alet Grobler het die bestuur van die perseel oorgeneem na haar man se dood in Junie verlede jaar.
"Die verhuring gaan nie via tender geskied nie, die sportkomitee het die outoriteit luidens die getekende ooreenkoms om vir die gebruik van die sportfasiliteite aansoek te doen, insluitende die klubhuis," het die munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, by navraag gesê.
Tans word die sportterrein deur die Garden Route Golf Club, die George United Football Club en die George-krieketklub benut.
Alet Grobler het intussen bevestig dat sy teen Maandag nog nie 'n amptelike kennisgewing ontvang het nie. "Ek is baie hartseer oor die manier waarop alles hanteer is," het sy gesê. "Ondanks herhaalde pogings tot kommunikasie van my kant af, sedert Grobbie se dood, voel dit asof almal behalwe ek geweet het wat die planne met die klubhuis en sportterrein is. Ek het mense in diens vir wie salarisse betaal word." 'n Deel van Grobbie se as is voor die klubhuis gestrooi en 'n kruis is by die perseel opgerig, ter herinnering aan sy aandeel in die ontwikkeling van die Rooirivierrif-sportklub.
Grobbie Grobler het die gholfbaan destyds van 'n kortbaan na 'n langbaan ontwikkel. Hy en sy vrou het die klubhuis volledig ingerig en was verantwoordelik vir die onderhoud van die perseel en die instandhouding van die gholfbaan.
Wayne Wire, wat tans die klubhuis namens Alet Grobler bestuur, is bevrees dat die klubhuis uiteindelik 'n oop teiken vir vandale gaan wees. Nadat daar verlede jaar vier keer by die klubhuis ingebreek is, het Grobler ekstra sekuriteitskameras aangebring. Sy neem onder meer die kameras en haar dranklisensie saam met haar, wanneer sy ontruim.
Gholfers onseker oor die toekoms
Van die gholfspelers het hul kommer uitgespreek oor hoe die nuwe verwikkelinge hul lidmaatskap gaan beïnvloed. Sauer het by navraag gesê George-munisipaliteit het geen ooreenkomste met sportklubs met betrekking tot subskripsiegelde nie. "Enige ooreenkomste van sportklubs moet met die sportkomitee opgeneem word."
Volgens die president van die Garden Route Golf Club, Charles Steyn, is hierdie nuwe verwikkelinge 'n groot skok. Hy is nie lid van die sportkomitee nie en was onbewus van die raad se besluit. "Ons klub het opkomende gholfers gehelp.
Ek is nie seker wat nou gaan gebeur met ons klub nie," het hy gesê. "Jy kan nie 'n geaffilieerde lid wees as jy nie aan 'n gholfbaan behoort nie. Ons sal maar daar moet speel totdat dit onspeelbaar is. Ons self kan nie die baan onderhou nie, want ons het te min lede. Die baan is tot dusver deur Alet Grobler onderhou. Dis 'n taamlike bedraggie per maand. 'n Gholfbaan is nie net 'n bossiekapper en 'n trekker nie, daar is setperke en t-bokse wat onderhou moet word."
Volgens Steyn is die ledegeld van gholfklub en die kroeggeld gebruik om die gholfbaan te onderhou. "Die gholfbaan kan nie bestaan sonder die kroeg nie," het hy gesê. Die munisipaliteit het tot dusver die krieket- en sokkerveld onderhou.
Twee lede van die George-krieketklub is vir kommentaar genader, maar hulle het dit van die hand gewys. Die George Herald kon nie daarin slaag om kontak te maak met 'n komiteelid van die Rooirivierrif-sportkomitee nie.
Na Grobler se dood het lede van die Garden Route Golf Club 'n afskeid ter ere van hom by die klubhuis gehou.
Wyle Grobbie Grobler by een van sy gunsteling plekke - die toonbank by Rooirivierrif-sportklub, wat hy vir jare bestuur het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'