GEORGE NUUS - 'n Bekende paartjie in eiendomskringe in George is onlangs in die George-streekhof skuldig bevind en gevonnis vir hul versuim om tussen 2008 en 2015 hul verpligtinge teenoor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na te kom.
Lydia en Willem Grobler is in Augustus vanjaar weens 335 strafregtelike klagtes aangekla.
Dit sluit verskeie statutêre misdrywe in, sowel as aanklagte van diefstal en die versuim om hul persoonlike inkomstebelastingdokumente in te dien.
Uit die 335 is Lydia slegs skuldig bevind op nege klagtes van versuim om belastingopgawes in te dien. Sy is 'n boete van R9 000 opgelê en is aangesê om haar opgawes binne twee maande in te dien. Die George Herald verneem van 'n betroubare bron dat dit reeds gedoen is.
Willem is aan die res van die klagtes skuldig bevind. Hy moet 'n boete van R17 000 betaal en die bedrag van R713 806,16 moet voor 31 Desember aan SAID terugbetaal word. Hiervan was R300 000 reeds voor vonnisoplegging deur Grobler aan SAID terugbetaal.
Die ellelange klagstaat, waarin verskeie vonnisse van boetes en opgeskorte tronkstraf uiteengesit word, bevat onder meer klagtes van versuim om belastingopgawes in te dien, versuim om gelde aan SAID te betaal en diefstal van Werkloosheids- versekeringsfondsgelde (WVF).
Die Groblers het reeds in 2010 hul eerste verskyning in die hof gemaak, maar dit is van die rol verwyder terwyl die beskuldigdes 'n regspunt op appèl geneem het. Die nuwe saak met gewysigde klagstaat is in September 2017 voorgesit. Die Groblers is deur Daan Dercksen van Dercksens Inc. in Knysna, verteenwoordig.
NVG verwelkom vonnis
Die woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, sê hulle verwelkom die vonnis. "Die beskuldigdes is ervare sakemense en het van beter geweet. Die boodskap is, en behoort vir alle belastingbetalers duidelik te wees, as jy jou belastingverpligting ignoreer sal jy vervolg word," sê hy.
IN SHORT: A well-known couple in George property circles has been convicted and sentenced in the George Regional Court after failing to fulfil their obligation to the South African Revenue Service (Sars) for more than a decade. Lydia and Willem Grobler were convicted in August this year of no less than 335 criminal charges. This includes several statutory offences, as well as convictions on theft charges and failure to file their personal income tax documents.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'