GEORGE NUUS - 'n Bekende eiendomsagent, William Henry Deacon (74) van Susan Deacon Eiendomme, het vroeg verlede Vrydagoggend, 18 November, in sy slaap gesterf.
Sy vrou, Susan Deacon, het vandeesweek gesê sy het haar beste vriend, vertroueling en sielsgenoot verloor. Die presiese oorsaak van sy dood is nog onbekend.
Susan Deacon het haar liefste William in Wittedrif ontmoet, waar haar ouers geboer het. "William het daar onderwys gegee. Hy en my pa het lekker saam musiek gemaak - William kon baie goed kitaar speel," het sy gesê.
"Hy het vir my die mooiste goed gesing en dis hoe ek op hom verlief geraak het. Ek was in my twintigs toe ons ontmoet het. Hy het later jare vir my gesê, toe hy my sien het hy geweet dat ons sou trou. Ons is 18 maande na ons eerste ontmoeting getroud, en sou vanjaar, op 16 Desember, ons 50ste huweliksherdenking vier. My hart is stukkend."
Susan Deacon beskryf haar William as 'n wonderlike man, 'n sagte man met 'n hart van goud.
"Sy bynaam was Elvis, want hy het kleintyd verskriklik baie soos Elvis Presley gelyk," het sy gesê. William Deacon het vir 24 jaar skoolgehou, waaronder 'n hele klompie jare by Laerskool Outeniqua. Hy het later saam met sy vrou voltyds as eiendomsagent gewerk, by hul suksesvolle agentskap.
"Ek het soveel werk gehad dat hy besluit het om my te help. Sedert die pandemie het ons egter tuis gewerk - dit werk baie beter," het Susan gesê. "In die 50 jaar was ons so gelukkig - hy was my steunpilaar. Ons het al die jare in Caledonstraat gebly."
William Deacon word oorleef deur sy vrou, Susan, en hul twee kinders. Die gedenkdiens vind Saterdag 26 November om 11:00 by die NG Moedergemeente in Courtenaystraat plaas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'