GEORGE NUUS - George Herald-redakteur, Lizette da Silva, het verlede week besoek afgelê by die mobiele borsskanderingseenheid wat vir die maand van Oktober in George is en haar heel eerste mammogram gekry.
Die mobiele-eenheid van Keystone Medical toer deur die land en spandeer tyd in verskeie dorpe waar vroue mammogramme en sonars kan laat doen.
Die eenheid sal tot 29 Oktober by die Eden Meander Lifestyle Centre (Burger King-ingang) in George gestasioneer wees.
Lizette deel die week haar ervaring met veral ons vroulike lesers.
"My eerste mammogram het soos 'n berg voor my gelê, maar byna al my vrese is reeds met die intrapslag in die kiem gesmoor. Na al die stories wat ek gehoor het oor waardeur vroue tydens 'n mammogram gaan, wou ek plek-plek kleinkoppie trek.
Die afspraak was om 14:30 by die mobiele-eenheid in die parkeerarea by die Eden Meander Lifestyle Centre. Ek is deur die vriendelike Lizelma Kassteen, in die ontvangsarea verwelkom waar ek 'n paar vorms moes voltooi.
Die dame kon seker die frons (pure senuwees) op my gesig sien en het my gerusgestel deur my van die prosedure te vertel.
Kort daarna het nog 'n vriendelike vrou, Yolandi Voogt, my na 'n vertrek geneem waar ek moes uittrek en my kaal bolyf met 'n grys manteltjie moes bedek. Ek het 'n rukkie daar gesit en stil-stil senuweeagtig vir myself gelag, toe Yolandi my inroep na 'n vertrek vol moderne masjiene - die tegnologie op die mobiele kliniek is hoogs gevorderd, maar geplaas in 'n verwelkomende, vroulike milieu.
Yolandi het die prosedure van die mammogram in meer detail verduidelik en vertel van die sonars wat daarna volg. Toe is dit tyd vir meet, pas en druk met verskeie kiekies wat van alle kante geneem word.
Nou ja, ek het nie voor in die tou gestaan toe bates uitgedeel is nie, maar Yolandi was sagkens professioneel, en my bolyfie se tydjie op die state of the art masjien het pynloos verloop.
Daarna het Nina Nqikinda die sonars gedoen terwyl ek plat op 'n bed moes lê. Nina het lekker geskrik, want toe sy die handjie opbring tot onder my arm, bars ek uit van die lag agter my masker.
Ek het vergeet om haar te waarsku dat ek kielierig is.
Dr. Nikoli van Zyl het kort daarna op 'n skerm wat voor my ingeskuif is verskyn - ek was steeds in my manteltjie - en al die pad van Pretoria is die uitslag van die pas afgelope toetse binne minute met my gedeel.
Tot my groot verligting was sy tevrede en is geen fout bespeur nie.
Baie dankie aan al die dames wat saam met my deur my eerste mammogram is. Julle het dit vir my in 'n aangename ervaring omskep. Sien julle oor twee jaar weer!"
Moet nie langer uitstel nie, bespreek nou u jaarlikse mammogram of borssonar by 087 055 0587 - Opsie 8. Mediese fonds en privaat fooie is van toepassing.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'