Soos water van 'n eend se rug, so het die bykans 4 700 motorfietsryers op die eendeweer gereageer. Volgens mnr. Ludrick Jacoby, voorsitter van die Nomads-motorfietsklub in Kaapstad, wat jaarliks die Buff reël, was daar beslis 'n klein persentasie ryers wat eerder tuis gebly het as gevolg van die sporadiese, maar soms harde buie. Daar was ook 'n groep wat oorspronklik in die woonwaparke bespreek het, maar wat op die ou einde in ander akkommodasiefasiliteite op die dorp gaan bly het.
Hierdie Buff is gekenmerk deur deelnemers wat beslis daarop uit was om pret te hê sonder om die wetstoepassers onnodig verkeerd op te vryf. "Ons wil nie die stadsvaders kwaad maak nie, want ons wil weer volgende jaar terugkom. Dis beslis die beste plek om 'n Buff te hê," het 'n besoeker van Swartruggens gesê.
Hier en daar was 'n ryer wat dalk bietjie minder as die nodige klere aangehad het, maar nêrens is die perk van welvoeglikheid oorskry nie.
'n Kosmopolitaanse mengelmoes van ryers het reeds van Donderdag af op die dorp begin aankom en die tentjies het soos paddastoele verrys. "Waar kry 'n mens die geleentheid om sommer so reg langs die see uit te span?" het een van die groep van Free Riders van Welkom laat weet.
Die deurdringende reën by tye kon nie die entoesiasme van die deelnemers demp nie. "Wat is 'n bietjie reën en nattigheid as die harte warm klomp en die weersiens van ou vriende op die spyskaart is," het mnr. Mike Hennessy van Knysna gesê. Hy't met sy hooggelaaide BMW R1200 GS Adventure by die Santos-woonwapark opgedaag en vir hom en sy vriende 'n heerlike kampplek reg op die walle langs die Indiese Oseaan gekry.
Die massarit Saterdagoggend deur die dorp, teen Parkside-Wes uit en deur die woonbuurtes, was een van die hoogtepunte. Toeskouers het in hul honderde oral langs die roete stelling ingeneem. Hulle kon hulself verlustig in ysterperde van alle kleure, groottes en sterktes.
Die Nomads het reeds toestemming van die Raad om die 2013 en 3014 Buff hier te hou.
Saterdag se Massa Rit.
Beenaf of nie, by die Buff wil hulle wees. Hierdie twee “afbene” was op dieselfde tyd op dieselfde plek sonder dat hulle van mekaar geweet het.