George-burgemeester Mercia Draghoender het in haar verwelkoming van die span uit die Ooste ‘n paar Japannese frases ingespan.
Die afrigters het die spelers egter nie veel kans toegelaat om rond te staar nie. Hulle is aan ‘n intensiewe oefensessie van langer as 90 minute onder-werp. ‘n Paar skoolseuns op die noordelike pawiljoen het ‘n plakboek met spelersfoto’s byderhand gehad sodat hulle spanlede sommer by die naam kon aanmoedig. Hulle het beslis hul huiswerk uit die George Herald-uitgawes van die afgelope weke goed gedoen, want daar was ‘n hele paar Japannese frases ook te hoor!
Doelwagter Seigo Narazaki was ‘n groot gunsteling en het naderhand vir die seuns beduie om te wag sodat hy later sy handtekening vir hulle kon gee. Ná die eerste opwarmdrafsessie het die sokkerballe te voorskyn gekom en is daar met mening geoefen.
Al drie Japan se doelwagters het ‘n paar puik duikslae uitgehaal. Hul beste pogings het harde toejuiging van die skare agter die noordelike doelhok gekry.
Die ander spanlede het gekonsentreer op ‘n informele oefensessie wat afgesluit is met verskeie blitsvinnige en aanskoulike wye aanvalle waar die doelwagters met mening getoets is. Een van die spelers, Makoto Hasebe is Maandag-aand hospitaal toe met rugprobleme wat hy Vrydag in ‘n wedstryd opgedoen het.
Te oordeel aan die warm verwelkoming wat Japan se span hier in George gekry het, sal baie inwoners hul vordering met belangstelling dophou. Georgiete sal sekerlik hoop dat Japan sy doelwit bereik, naamlik om na die laaste deel van die toernooi, die uitklopfase, deur te dring.
Artikel en foto's: Anica Kruger
Doelwagters Seigo Narazaki en Yoshikatsu Kawaguchi, in die middel links in wit hemde, kyk hoe hul mededoelwagter Eiji Kawashima ‘n harde bal vasvat tydens die oefening.