GEORGE NUUS - Inwoners van George is ontstoke oor die sluiting van die DStv-agentskap in die Multisentrum. By die winkel waarvandaan die agentskap bedryf word, is 'n kennisgewing in die venster opgeplak waarin klante meegedeel word dat 28 Oktober die laaste dag van besigheid is.
Intekenare van George is bekommerd dat hulle ná hierdie datum na Mosselbaai of Knysna sal moet ry as hulle probleme van aangesig tot aangesig met iemand wil bespreek. Hulle wil weet wat hulle in die toekoms gaan doen as daar byvoorbeeld probleme met hul dekodeerders is.
Vrae word ook gevra oor die werkstoekoms van die twee permanente personeellede.
Na verneem word kom die huidige konsessie vir die agentskap teen die einde van die maand tot 'n einde. Daar is betroubaar verneem dat 'n kortlys vir 'n nuwe konsessie reeds opgestel is en 'n aankondiging kan later volg.
Dit sou beteken dat George vir 'n ruk sonder 'n agentskap kan wees. Toe die George Herald die agentskap besoek het, was daar juis klante wat wou weet wat aan die gang is.
Die kennisgewing wat in die DStv-agentskap se venster opgeplak is.
Foto's: Eugene Gunning
Die twee personeellede het alle navrae na Lynette van Zyl verwys wat by die huidige agentskap betrokke is. Van Zyl het bevestig die huidige kontrak kom tot 'n einde.
Sy het gesê MultiChoice het dit weer op tender uitgesit. Sy dra nie kennis van die uitkoms van die nuwe proses nie.
Ondanks verskeie pogings van die George Herald om kommentaar te kry, het MultiChoice teen saktyd nog nie gereageer nie.
DStv/MultiChoice customers have been informed that the present agency in George will close its doors on the 28th of October. The company apologises for any incovenience. According to information that the George Herald has received the contract for the present agency expires. A new agency might open later.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'