Die tweede fase is vroeg in September in opdrag van George se burgemeester, Charles Stan-ders, voltooi en die grond wat erg onder erosie deurgeloop het, is opgevul en gaan nou ook verfraai word.
Pierre Botha van Droom vir Blanco sê hulle is baie dankbaar vir die betrokkenheid van die plaaslike raad.
"Ons het nog sowat drie tot vier vragte tuingrond nodig om fase drie ook te voltooi. Al hierdie werk word deur gemeenskapswerkers gedoen en een van ons talle senior burgers wat help is reeds 83 jaar oud. Ons plaaslike Outeniqua Tree Farm het gehelp en die New Plant Kwekery het talle skenkings gemaak. Die kompos-weldoener is steeds Grow Green Organics. Vir die verfraaiing van die terrein is die Droom vir Blanco-projek dankbaar vir al die weldoeners en helpers."
Botha sê wat die beskadigde straat betref het Blanco Laerskool aangebied om die gr. 7-prefekte onder leiding van hulle projekonderwyser, Johan du Preez, in te span en 'n gedeelte met groot bome te vervang.
"Ons vra die gemeenskap en al die kinders om toe te sien dat hierdie straat se bome vir die nageslag bewaar word. Aan mnr. du Preez en al die gretige skoliere wat die projek so netjies voltooi het en in die toekoms sal versorg kan ons slegs sê: Dankie, julle stel 'n wonderlike voorbeeld. Ook aan die skoolhoof, mnr. Sas du Plessis 'n groot dankie vir sy toestemming. Hierdie skool gaan ook betrokke raak in die daarstelling van Blanco Toerisme wat reeds ondersoek word."
Volgens Botha is ander projekte ook met die burgemeester bespreek en sal dit ingefaseer word. "Blanco se nuutverkose raadslid, mnr. Melvin Naik het ook sy samewerking aangebied. Droom vir Blanco sal almal se gemeenskapswerk verwelkom en waardeer."
Om betrokke te raak kontak Pierre Botha by 044 870 8212, 086 611 6998 of 082 37 44 509.

Leerders van Blanco Laerskool het ook kom hand bysit en bome geplant.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'