GEORGE NUUS - 'n Toename in verkragtings waar slagoffers onder die invloed van alkohol is, word deur die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, as uiters kommerwekkend beskryf.
Gevalle waar minderjariges slagoffers óf verdagtes is, stuur ook koue rillings teen jou rugstring af.
"Daar is 'n definitiewe toename in verkragtings waar die slagoffers onder die invloed van drank is.
"Dit maak die ondersoek baie moeilik, want in baie gevalle kan die slagoffers nie die verdagtes beskryf of enigiets van die voorval onthou nie," het Pojie vandeesweek gesê.
Binne vier dae is vier verkragtings in die George-area aangemeld.
Twee van hulle met minderjarige slagoffers.
Wildernishoogte
Vrydagnag, 16 Februarie is 'n vrou deur 'n onbekende man in Wildernishoogte verkrag.
Sy het na bewering saam met vriende gekuier en daarna gaan slaap.
Toe sy wakker skrik was sy half naak met een van die mans wat vroeër in die geselskap was, besig om haar te verkrag.
Die verdagte (50) is op die toneel uitgewys en in hegtenis geneem.
Hy het Maandag 19 Februarie op 'n aanklag van verkragting in die George-landdroshof verskyn.
Volgens Pojie is die verdagte nog in aanhouding. Die datum vir sy borgtogaansoek kon nie bevestig word nie.
Thembalethu
'n Vrou (24) was Sondagoggend, 18 Februarie omstreeks 03:00 na bewering saam met vriende op pad huis toe van 'n taverne af.
Haar vriende het haar gegroet en afgedraai en sy het verder alleen geloop.
'n Onbekende man het haar gegryp en in 'n oop erf in 19de Straat ingesleep waarna hy haar verkrag het.
Tydens die verkragting het 'n nabygeleë huis se deur oopgegaan wat die slagoffer 'n kans gegee het te ontsnap.
Sy het na die huis gegaan vir hulp waarna 'n man haar ingeneem en ook verskeie kere verkrag het.
Dié verdagte is kort daarna in hegtenis geneem en het reeds in die plaaslike landdroshof verskyn.
Hy bly in aanhouding. Sy volgende verskyning kon nie bevestig word nie.
Die eerste verdagte is nog op vrye voet.
Pacaltsdorp
Twee 7-jarige dogters van Pacaltsdorp is oor die naweek verkrag.
Die eerste voorval het Saterdag 17 Februarie omstreeks 12:00 plaasgevind na die ma van die slagoffer gerugte gehoor het dat die kind se biologiese pa (65) haar verkrag.
Die dogter het die voorval aan haar ma bevestig.
Na verdere ondersoek deur die gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) is die pa van New Dawn Park aangekeer en intussen voor die hof gebring.
Hy is in aanhouding en wag om op borgtog aansoek te doen.
Die dag daarna (Sondag, 18 Februarie) is 'n meisie in die agterplaas van 'n huis in Jakarandastraat verkrag.
Die voorval is omstreeks 19:30 aangemeld nadat 'n getuie die voorval gesien het.
Die verdagte is deur die ouers gekonfronteer waarna hy weggehardloop het.
Die verdagte is nog in hegtenis geneem nie.
*In Riversdal is 'n 41-jarige verdagte na bewering deur die slagoffer se ouma betrap terwyl hy besig was om die 8-jarige meisie te verkrag.
Die ouma het die polisie geskakel en die verdagte is dieselfde dag aangekeer. Hy is steeds in aanhouding en verskyn eersdaags vir sy borgtogaansoek.
* Police this week described an increase in incidents where rape victims are under the influence of alcohol as extremely worrying. Southern Cape police spokesperson, Captain Malcolm Pojie said: "There is a definitive increase in incidents where the rape victims are under the influence of alcohol, which makes the investigation very difficult, because in many cases the victims can not describe the suspects or remember anything about the incident," he said.
'We bring you the latest George, Garden Route news'