GEORGE NUUS - Drie jeugdiges tussen die ouderdomme 15 en 18 jaar oud is Dinsdagaand, 7 Desember, in Reigerpark in Rosedale vir die besit van gesteelde goedere, in hegtenis geneem.
Dié arrestasie hou verband met die aanval op 'n motoris wat op Saterdag 27 November in Reigerpark, die nuwe uitbreiding agter Hoërskool Pacaltsdorp, voorgekeer, aangerand en beroof is.
Die motoris, 'n inwoner van Pacaltsdorp, het verskeie beserings opgedoen ná daar vroeg die betrokke oggend gepoog is om sy voertuig te kaap.
"Aanvanklik is 'n saak van opsetlike saakbeskadiging geopen, maar 'n roofsaak sal ook bygevoeg word. Dit kom na aanleiding van getuies wat gesien het dat die klaer deur die jeugdiges met pangas en ander skerp voorwerpe gedreig is. Hy is van persoonlike items waaronder 'n horlosie en kledingstukke beroof," sê Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie.
Ná die aanval op die man het die verdagtes sy voertuig geplunder en gevandaliseer. Die beraamde skade aan die voertuig is R50 000.
Die drie verdagtes sal eersdaags in die George-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort en moontlike verdere arrestasies kan verwag word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'