TUINROETE NUUS - 'n Voormalige Oudtshoorniet wat 'n buitengewone liefde vir langafstande en diere het, beplan om vanaf die Kaap tot in Oudtshoorn te hardloop om geld vir die niewinsgewinde organisasie, Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), in te samel.
Gerhard Rademeyer van Brackenfell vertel hoe hy op Oudtshoorn grootgeword het. "Ek was eers op Laerskool Oudtshoorn-Noord en in 1982 het ek aan Hoërskool Langenhoven gematrikuleer.
"Ek het op hoërskool talle langafstande kafgedraf en ook my eerste halfmarathon op Mosselbaai gedoen. Daar het my liefde vir langafstande begin, waarna ek aan meer as 300 padwedlope, insluitend die Comrades en Two Oceans, deelgeneem het," sê Rademeyer.
Hy vertel dat Odin se onbaatsugtige werk in die George- en Oudtshoorn-omgewing sy hartsnare geroer het. "Colleen Smith en haar span werk soms onder die moeilikste omstandighede om diere te red, te versorg en te huisves. Soos almal weet, is Odin afhanklik van donasies om hul werk te verrig," sê Rademeyer.
Sy doelwit is om 420km ononderbroke binne 80 ure af te lê en sodoende R1 miljoen vir Odin in te samel vóór sy voete begin klap.
"Dit is die eerste padwedloop oor 420 km in Suid-Afrika wat ononderbroke aangedurf gaan word," sê Rademeyer, wat op 17 Februarie vanaf die Bellville Velodrome gaan vertrek. Hy beplan om daarna tot by Worcester te hardloop en dan uiteindelik by die De Jager-stadion in Oudtshoorn te eindig.
'n Ondersteuningsvoertuig sal hom deurgaans vergesel."Ek daag elke maatskappy in die Tuinroete en Klein-Karoo uit om slegs R500 te skenk. Individue wat kan, word gevra om elkeen R50 te skenk. As besighede hul handelsmerke op my hardloopklere wil plaas teen 'n nominale fooi, is hulle ook meer as welkom," sê hy.
Odin geweldig dankbaar
Smith, die stigter van Odin, sê wat Rademeyer wil doen is verstommend.
"As dit nie was vir wonderlike inisiatiewe soos dié van Gerhard nie, sou ons nie kon doen wat ons doen nie. Ons is hom ewig dankbaar en ons kan nie meer wag nie," sê sy.
Odin, met fasiliteite in George en Oudtshoorn, fokus grootliks op uitreikprogramme vir diere in nood in die Karoo- en Tuinroete-distrikte. Hulle bied graag opvoeding aan diere-eienaars, asook mediese hulp en medisyne, en red en rehabiliteer honde en katte.
Enigiemand wat bydraes wil lewer of meer inligting nodig het, kan Rademeyer kontak deur vir hom 'n e-pos na rademeyer.gerhard@yahoo.com te stuur, of hom te WhatsApp by 074 506 9279.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'