GEORGE NUUS - Dolphin's Point, op erf 2 Georgeweg in Kaaimanspas tussen George en Knysna, is verkoop.
Die A-raam huis wat vanaf die uitkykplek oor die treinbrug oor die Kaaimansrivier sigbaar is, is vir 'n onbekende bedrag aan 'n koper van Kaapstad verkoop.
"Die nuwe eienaar beplan om 'n groot betonstruktuur op te rig waarvoor nou goedkeuring by die plaaslike owerhede gesoek word," sê Wim de Beer, seun van die De Beer-egpaar wat die huis sedert 1960 besit het.
Die A-raam-huis en 'n tweede wooneenheid op die erf is lank as die Dolphin's Point-gastehuis bestuur. Dit is in Augustus 2006 erg beskadig toe die N2 bokant die erf na swaar reën begin meegee het. De Beer se eiendom teen die helling onderkant die N2 het ook seewaarts begin glip.
Daardie modderstorting was baie erger as die een wat op 20 Oktober, die N2 tydelik versper het en gelei het daartoe dat die Saasveldpad as ompad gebruik moes word.
Destyds was die pad tussen 26 en 29 Augustus gesluit. Die Saasveldpad is vir passasiersvoertuie gebruik, maar kon selfs nie die ligter las hanteer nie.
Swaarvoertuie moes die N9/R62 via die Langkloof gebruik wat die 62,5 km tussen George en Knysna met meer as 600 km verleng het.
Die N2 is uiteindelik na grootskaalse herstelwerk heropen.
Onveilig verklaar
Na die groot volume water wat vanaf die N2 deur die erf gevloei het, het die deurweekte bogrond op die erf begin verskuif. Die huise en perseel is onveilig verklaar en rooi en wit-gevaarband, asook skriftelike kennisgewings is aangebring om te waarsku dat die strukture onveilig is.
Die waarskuwings het nie die plaaslike bevolking afgeskrik nie. "Die deure is oop forseer en die huise is leeg gedra en gevandaliseer," sê De Beer, wat in daardie stadium in Pretoria in die hospitaal was nadat hy tydens 'n gewapende roof by sy huis swaar gewond is.
By navraag het De Beer, 'n lektor aan die Universiteit van Johannesburg, die week gesê die ontwikkeling van die eiendom hang nou af van plaaslike owerhede wie se toestemming nodig is vir nuwe bouwerk. Die bestaande strukture sal waarskynlik platgestoot word om plek te maak vir die uitgebreide nuwe bouwerk.
Vakansiehuis
Volgens De Beer het sy pa die erf in 1960 bekom en as kind het hy en sy ouers dit as vakansiehuis gebruik. "Dit was 'n voorreg om as kind baie tyd daar deur te bring," sê hy.
De Beer het in 2002 verbeterings aan die eenhede aangebring waarna dit as selfsorg-gastehuis gebruik is.
"Weens die unieke ligging het baie welsynsorganisasies funksies daar gehou, en verskeie toerisme-operateurs het troues, verlowings- en verjaarsdagpartytjies daar aangebied."
Volgens De Beer het hy skadevergoeding van 'n versekeringsmaatskappy geëis.
"Tipies het hulle nie eens die moeite gedoen om die perseel te besoek nie. 'n Gedeelte van die versekering is wel later uitbetaal, maar dit was te min om al die skade herstel," sê hy
"Oor die jare het verskeie belaglike aanbiedings van ontwikkelaars gevolg. Die kreatiwiteit van sommige kansvatters het vir ons as gesin groot vermaak verskaf. Daar was baie mense wat hom wou koop, hulle wou hom net nie betaal nie..."
Die perseel is egter wel tydelik bewoon. "Verskeie gesinne wat sleg daaraan toe was het met my toestemming daar gewoon, hetsy in 'n karavaan of in een van die eenhede wat darem in 'n mate herstel kon word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’