GEORGE NUUS - Hoërskool George groet Dr LG Lottering op 31 Oktober 2013 met sy uittrede uit die onderwys, en groet hom finaal met sy heengaan op 31 Oktober 2019. Morton van Rooyen, die huidige skoolhoof, het sy simpatie met die familie asook die skool gemeenskap gedeel op sosiale media. "Mag u siel in vrede rus, Dok."
Hy vertel dat Dr Lottering sedert 1992 prinsipaal van Hoërskool George was. Hy was ook 'n oud leerder van die skool, en het daarin geslaag om die skool uit te bou tot 'n "School of Choice".
Sedert Dok se termyn ontvang die die skool jaarliks ‘n groot aantal aansoeke vanaf ouers om hul kinders by Hoërskool George in te skryf. "Van die redes hiervoor is die feit dat ons skool akademies sowel as op sportgebied geweldig goed presteer. Dok was 'n strateeg by uitstek, daarom is vakke ingevoer wat leerders kon neem waarin hulle belangstel en goed kon in vaar. Dok het veral die matriekonderwysers aangemoedig vir goeie uitslae."
Van Rooyen sê die kwaliteit van die matriekuitslae was altyd vir Dok die belangrikste. Sedert 2006 is Hoërskool George 'n fokus-skool vir die kunste en die kunsvakke vaar tans baie goed en behaal elke jaar 'n 100% slaagsyfer. Die skoolsaal is gedurende Dok se termyn opgerig.
"Die aanvangklike voorstel en planne vir 'n saal was nie goed genoeg vir Dok nie en ander planne moes opgetrek word, want hy het geglo dat net die beste goed genoeg vir is vir sy skool." Dok Lottering was 'n mens-mens en was geweldig lief vir die gemeenskap wat hy gedien het as prinsipaal. Hy het opvoeders en leerders aangemoedig om net hul beste te doen. Dok was ook baie geliefd onder sy personeel.
Hy was streng en het baie hoë standaarde gestel vir Hoërskool George.
Dok het besluitnemingsvaardighede gehad wat hy optimaal in belang van die skool gebruik het.
Hy was vir jare diep betrokke in skolesport op plaaslike, provinsiale sowel as nasionale vlak. Hy was ook 'n aktivis vir nie-rassigheid in die apartheidsjare. "Hy het tot sy dood geglo dat alle mense gelyk is en gelyk behandel moes word," sê Van Rooyen.
Die skool het sedert Dok se aftrede voortgegaan om opvoeding van hoë gehalte te lewer en om leerders goed voor te berei vir die toekoms. Hoërskool George betreur die heengaan van Dok Lottering en bid dat sy siel in vrede sal rus want hy het "die goeie stryd gestry en die wedloop voltooi".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'