In Nels-plakkerskamp in Borcherds is gewys hoe riool reg onder 'n huishoudelike waterkraan, wat 17 huisgesinne bedien, uitborrel. In Maraiskamp net oorkant Borcherds vloei rioolwater en afval Stompneusstraat af. By een van die huise was tot die sitkamervloer onder riool. By beide Nels-plakkerskamp en Maraiskamp het die stank van die riool in die lug gehang.
Die George Herald het die probleemareas besoek en volgens inwoners het die George-munisipaliteit dieselfde dag met herstelwerk begin.
Damon van Heerden van Nels-plakkerskamp sê die klagtes oor die riool is al telkemale by die George-munisipaliteit aangemeld, maar word net tydelik herstel. "Geen vullisverwydering vind plaas nie en ons moet self swartsakke koop."
Zelda Veldsman van Maraiskamp beweer die rioolprobleem gaan al vir nege jaar aan en sê ook dit word net tydelik herstel as hulle kla.
In Denneoord, waar Mitchellstraat teen die treinspoor doodloop, het inwoners gekla oor 'n sloot langs die treinspoor waar bosslapers na bewering slaap. "Ons is al te bang om alleen daar te loop. Die bosslapers hou 'n gevaar vir ons in en skeur weekliks die vullissakke oop, mors en los dit dan net so," het 'n inwoner gesê. Volgens die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, word die vullis wat uit die sakke gegooi word ook nie deur die munisipaliteit opgetel nie en munisipale wetstoepassers dreig die inwoners om hulle te beboet.
Debra Sauer, woordvoerder van die George-munisipaliteit het ten opsigte van die Nels-plakkerskamp gesê: "Ons kan bevestig dat alle huise die laaste week van Mei 2013 vullissakke gekry het en op Dinsdag 9 Julie is vol sakke vullis daar opgelaai."
Ten opsigte van die rioolprobleem het Sauer gesê: "Na die klagte opgevolg is, is gevind dat daar geen rioolverstopping is nie. Riool-verstoppings word oopgemaak soos die publiek kla. Verstoppings word veroorsaak deur ongewenste voorwerpe wat in toilette gegooi word. Die staankraan word nie deeglik toegedraai na gebruik deur inwoners nie, wat water mors en die afvloei veroorsaak. Geen geld is begroot vir die 2013/14 finansiële jaar vir die plavei van strate nie. Die area sal wel geïnspekteer word om moontlike verbeterings aan te bring."
Ten opsigte van Maraiskamp het Sauer gesê daar word aandag aan die probleem geskenk. Oor die Denneoord-hawelosesprobleem het Sauer gesê: "Grondbestuur verwyder gereeld die haweloses, maar hulle weier om in nagskuilings te bly. Langtermynstrategieë word ondersoek. Sy het erken dat die haweloses verantwoordelik is vir die rommelstrooi. " Die reinigingsafdeling maak gereeld daar skoon."
* Residents of Nels informal settlement, Maraiskamp and Denneoord complained to the George Herald about municipal service delivery. In Nels informal settlement and Maraiskamp the complaints were mainly about sewerage leeks and refuse removal. In Denneoord, residents also complained about poor refuse removal, as well as homeless people sleeping next to the railway. The George Herald visited the areas and shortly after the visit the municipality was also on the scene, fixing some of the sewerage problems and removing refuse. Debra Sauer, communication official at the George Municipality said that some of the residents of Nels informal settlement were to blame for the sewerage blockage, as unwanted items were thrown into the system. She said that they are attending to the Maraiskamp complaints. According to Sauer they regularly remove the homeless, but they don't want to stay in night shelters.

Zelda Veldsman staan langs 'n stroom rioolwater wat uit een van Maraiskamp se huise uitvloei.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'