GEORGE NUUS - Die AME Kerk in Rosemoor is gedurende die afgelope twee jaar tot so 'n mate geplunder dat daar nie meer water- of elektrisiteitstoevoer is nie. Die gebou is in 'n gehawende toestand.
Al die vensters is gebreek, die veiligheidshekke voor die deure en alarmstelsel is gesteel en 'n klomp meubels is weggedra. Die meeste van die gordyne is ook weg.
"Ons klok is gesteel en so ook die nagmaalstel en musieksentrum. Elke Sondag is daar nog iets anders wat verdwyn het of stukkend is," sê Priscilla Windvogel, gemeentelid en opsigter. Sy sê daar was eens 'n heining, wat ook gesteel is.
Graffiti ontsier die gebou verder.
Volgens die gedenksteen is die gebou in 1988 opgerig.
Windvogel sê die kerk word al vir ongeveer twee jaar geteiken. Getalle by kerkdienste het as gevolg daarvan skerp gedaal. "Die diewe doen net wat hulle wil. Die polisie help nie eintlik nie. Ons het al klagtes gelê, maar niks kom daarvan nie."
Opsigter Priscilla Windvogel en trusteelid Ivor Grispe aan die voorkant van die kerk. Ook daar is vensters gebreek. Foto's: Alida de Beer
Ivor Grispe, 'n kerktrusteelid, sê hulle is 'n klein gemeente - slegs 86 lidmate. "Ons kan dit nie bekostig om al die skade te herstel en gesteelde goedere te vervang nie. Ons sit met ons hande in die hare."
Die pastoor van die gemeente, Sonwabile Madikane, sê hulle het 'n projek om geld in te samel sodat hulle die eiendom weer kan omhein. "Dit kan dalk help om diewe te keer."
Die polisie het teen saktyd nog nie op 'n navraag van die George Herald gereageer nie. Ander gemeentes wat moontlik kan help, kan Madikane bel by 073 698 5767.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'