Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Wat verwag jy as jy 'n appelplaas besoek? Appelbome, appels, en - nou dat hulle nie meer DDT spuit nie - ook lieflike skoon lug.
Net dit alleen is genoeg rede om 'n draai te gaan maak, maar, as jy by die Zondaghs van Avontuur kuier, kry jy soveel meer: 'n ervaring gevul met literatuur, geskiedenis, die buitelewe en die beste van alles, lekker mense met styl.
Die vrugtebemarker, Tru-Cape, het onlangs 'n mediagroepie vir twee dae in die Langkloof op die appelboere Jimmy Zondagh van Belle-Vue en Francois Zondagh van Matt Zondagh-landgoed se plase trakteer, en nou verstaan ek heeltemal hoe Eva so maklik vir Adam met 'n appel kon verlei!
Ryk geskiedenis
Ons is gul verwelkom met 'n heerlike ete op Belle-Vue wat Magdel, Jimmy se vrou, by haar massiewe eetkamertafel voorgesit het. Hier het ons uitgevind die Zondagh-familie was bevriend met Dalene Matthee van Kringe in die bos faam en dat die idee vir die boek in die Belle-Vue plaasopstal by Matthee posgevat het.
Die bank waar sy sit en praat het oor die konsep vir die boek, staan steeds in die sitkamer tussen al die ander antieke meubels. Die huis is vol historiese items en soos Magdel sê: "Dis maar goed ek is ook lief vir oudhede, anders was hier onmin!"
Jimmy se oupagrootjie, Petrus Hendrik, bekend as Piet, is 'n karakter in Kringe in die bos en is op Belle-Vue begrawe.
Saam met Jimmy en Magdel Zondagh van Belle-Vue-landgoed (weerskante van die banier) is agter van links: Chris Kriel, Ilse Schoonraad, Chris Jooste, Gerda Kriel en Calla du Toit. Voor: Christo Vermaak, Jeandré van der Walt en Samantha van den Berg. Foto: Brian Berkman
Langs die opstal is 'n mini-museum waar Jimmy ou toerusting en ander interessanthede wat aan sy voorouers behoort het uitstal, asook 'n skuur gevul met klassieke motors en 'n ou lykswa - letterlik 'n wa.
Die hedendaagse Zondaghs hou nie alleen van geskiedenis nie, hulle maak ook geskiedenis.
Hulle is die medestigters van die Karoo to Coast M.T.B.-fietswedren wat al vir 21 jaar gehou word en sakke vol geld insamel vir oogoperasies en gidshonde vir blindes.
Die fietsryers volg 'n roete van Uniondale na Knysna en ry deur die klowe en dale van die befaamde Prins Alfred-pas wat in 1867 deur die Graaff-Reinetter Thomas Bain voltooi is.
Dit het sewe jaar gevat om te bou.
Kyk video's hieronder:
10 geslagte
Francois Zondagh se seuns, Matt en Kosie is al die 10de geslag Zondagh-boere op die Matt Zondagh-landgoed, en hulle het albei kleuters, so kort voor lank is dit dalk oupa se oogappels wat boer.
Saam met die Zondaghs se ryk geskiedenis, is hulle aan die voorpunt van appeltegnologie. Hulle koelkamers beskik oor beheerde atmosfeer wat dit vir hulle moontlik maak om die rypwordproses van die appels te beheer. 'n Groot pluspunt, aangesien hulle appels kan terughou tot ná die appelseisoen.
Die werkers werk skouer aan skouer met die nuutste rekenaartegnologie en masjinerie wat die appels sorteer volgens kwaliteit.
Die plaas het ook 'n laerskool en kleuterskool waar die kinders gehalte onderrig ontvang.
Francois en sy seuns, wie se gunsteling appel 'n geurige, rooiwang Fuji is, produseer sowat 50 ton appels 'n hektaar op die Matt Zondagh-landgoed.
Kosie Zondagh en sy dogtertjie Isabella is nog ietwat verstom na haar avontuur op die vervoerband.
Hulle voorsate op Avontuur, wat eers met vee geboer het, het in die vroeë 1900's begin appels plant, en die Zondaghs hoop om nog vir talle geslagte op hulle baanbrekerswerk voort te bou. Die Langkloof is perfek vir appels omdat die winters bitter koud is - en 'n appel het die koue nodig om te hiberneer. Francois sê hoe kouer die boom kry, hoe meer geneë is dit om goed te dra. "Hy skrik dan beter wakker!"
Francois en sy seuns, wie se gunsteling appel 'n geurige, rooiwang Fuji is, produseer sowat 50 ton appels 'n hektaar op die Matt Zondagh-landgoed.
Reputasie
En Tru-Cape is ooglopend baie tevrede met die Zondaghs se produk. Kosie sê hulle het 'n reputasie om te beskerm. "Oorsese kopers vra vir ons vrugte. Die mense weet as ons etiket sê dit is topgehalte dan is dit so. Daar is 'n spesiale kode wat op elke pak vrugte aangebring word sodat 'n mens presies weet wanneer die vrug in watter boord gepluk is. Ons pak kieskeurig, maar plaaslik word die appels na dit by ons weg is dikwels sleg hanteer. Dan kneus die vrug. Die koue ketting is ook baie belangrik."
Tru-Cape se Brian Berkman sê verbruikers moet besef dat appels veelsydig is. "Mens hoef nie appels altyd net so te geniet nie. Maak appeltert, smoothies, appelpuree, appeljellie... die lys gaan aan. 'n Appel 'n dag hou nie net die dokter weg nie, die appelbedryf is ook 'n groot werkskepper. Dit skep infrastruktuur soos paaie terwyl ekonomiese voordele uitbrei na ondermeer die karton- en vervoerbedryf."
Die rooi appel, Fuji is 'n geurige, soet, stewige vrug met baie sap.
Tru-Cape se verkrygingsbestuurder, Calla du Toit, som die Zondaghs se sukses en etos mooi op.
"Geslagte verseker die oordrag van kennis. Hulle kry hulle appelkennis met moedersmelk in deur generasies. Hulle waardes is ingebou. Daar is sekere dinge wat eenvoudig ononderhandelbaar is. As ek dit nie nou doen nie, verloor ek my oes! Hulle toon absolute toewyding tot die plaas en kry van kleins af indiensopleiding."
Kosie en Matt is dit eens: "Ons wil die plaas en die wêreld beter los as wat ons dit gevind het."
Met so 'n lewensfilosofie gaan die Zondaghs van Avontuur van krag tot krag - generasie op generasie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'