GEORGE NUUS - Toe Adriaan Petrus van der Colff (AP) as George se heel eerste onderwyser in 1812 aangestel is, het hy seker nooit kon droom dat sewe geslagte later 'n klein Van der Colff-seuntjie sy eerste skooldag in George sal beleef nie.
En dit is presies wat verlede week, 16 Februarie, gebeur het toe Hanniel van der Colff (7) sy skoolloopbaan by Laerskool George-Suid begin het.
Hanniel is die jongste van twee seuns. Sy ouboet, Ardou is in gr. 5, ook in Laerskool George-Suid. Sy ouers, Marius (Mars) en Jeanette van der Colff, het einde 2012 na George verhuis.
Hulle het self 'n lang pad geloop in die Van der Colff-sirkel. Mars het Dinsdag vertel dat hy grootgeword het in die Noord-Kaap. Na skool is hy na die Universiteit van Pretoria waar hy voorgraads en nagraads in 'n sakerigting studeer het.
Na universiteit is hy Amerika toe waar hy onder meer by 'n groot hospitaalgroep in Greenville, Suid-Carolina gewerk het. In 2002 het hy betrokke geraak by Christelike uitreiking.
In 2005 het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Tussen het 2005 en 2008 het hy afwisselend vir 'n paar maande in Suid-Afrika en Amerika gewerk. Hy het intussen ook vir Jeanette ontmoet en hulle is in 2008 getroud.
In 2009 het hulle na Amerika vertrek en in 2012 terugkeer na Suid-Afrika. Ardou is in Amerika gebore. Einde 2012 het hulle na George verhuis. Hier het hulle George Super Kitchen begin wat intussen deel geword het van die Diakonos en Stelios-groep.
Volgens Mars is dit wonderlik om in George te woon. Soms as hy van die ou bome sien wonder hy of AP van der Colff dit dalk help plant het.
Wanneer mense hom vra word of hulle familie nuut in George is, glimlag hy net en antwoord: "Nee, ons familie was net vir 200 jaar so bietjie uitstedig."
Die dorp George se eerste onderwyser, koster en mediese dokter – Adriaan Petrus van der Colff
Saamgestel deur Jakkie van der Colff
Op 23 April 1811 vaardig graaf Caledon, goewerneur aan die Kaap, ‘n proklamasie uit waarin hy nadruk lê op die uitgestrektheid van die Swellendam Drostdy asook die ongeriewe en onreëlmatighede in daardie gebied. In die proklamasie word sy besluit bekend gemaak om ‘n nuwe Drostdy te stig ten ooste van die Gamka- en Gouritsriviere. Die gebied sluit onder andere Outeniqualand in. Outeniqua beteken; “Man met heuning belaai.”
Die Drostdy sal bekend staan as George ter ere van die koning van Engeland op daardie stadium, George lll. Die ligging van die dorp word deur goewerneur Caledon self gekies en ook dat die Drostdy se naam George sal wees.
Erwe word gratis aan ses gesinne gegee wat toe reeds lank aan die grens van die houtbosse woon. Hulle het die erwe ontvang nie as gevolg van behoeftigheid nie, maar met die veronderstelling om te help met voorsiening van hout vir die aanbou van die dorp. Op 8 Oktober 1811 is ‘n verdere dertig erwe per openbare veiling verkoop.
Aan die begin van 1812 word Adriaan Gijsbertus van Kervel as eerste landdros van George aangestel. Direk na sy aankoms het landdros van Kervel ‘n brief aan die nuwe goewerneur Cradock, gestuur. In die brief het hy genoem van die treurige toestande van godsdiens en onderwys in daardie geweste.
Om die betrokkenheid van Adriaan Petrus van der Colff met die ontwikkeling van George in verband te bring, moet eers teruggegaan word na 1806 toe die skip Neptunes wat van Engeland op ‘n vaart was na Batavia, Kaap die Goeie Hoop aangedoen het. Kort na die skip se vertrek in Februarie 1806 uit die Kaapse hawe is die Neptune so ernstig in ‘n seestorm beskadig dat die skip moes omdraai na die Kaap. Daar is die skip soos dit destyds genoem is, “gekondem.” Al die passasiers was gestrand in die Kaap.
Een van die passasiers aan boord was Adriaan Petrus van der Colff wat vir ‘n wyle in die Kaap moes bly omdat hy nie ‘n skip kon kry wat hom verder na Batavia of terug na Nederland kon neem nie. Op 1 Augustus 1806 doen hy aansoek by sir David Baird die goewerneur om permanente verblyf aan die Kaap Kolonie.
Hy was ‘n mediese dokter van beroep en op daardie stadium was geneeshere skaars en baie gesog. Op 4 Augustus 1806 ontvang hy toestemming om permanente verblyf en om aan die Kaap as geneesheer te praktiseer. Hy het ‘n praktyk in Dorpstraat 10 geopen.
In sy eerste jare aan die Kaap het Adriaan (voortaan na verwys as AP) bevriend geraak met Adriaan van Kervel wat in 1812 as eerste landdros van George aangestel is. Kort na van Kervel se aankoms in George het hy gevra dat AP vanweë sy kennis van die Bybel (as voorleser) geleerdheid (as onderwyser en as dokter) na George gestuur moet word.
Landdros Van Kervel het self die dorp met sy breë strate en rye eikebome uitgelê. In 1813 was die hofgebou en gevangenis reeds voltooi. Die landdros se huis was toe in aanbou. Hou in gedagte dat die landdros se huis en hofgebou na verwys is as “Die Drostdy”.
Wat onthou moet word is dat in daardie jare die kerk in Suid Afrika beskou is as ‘n klassis (ring) van Amsterdam. Die kerklike organisasie is soos in Holland, beskou as onderhorig aan die staat. Dit het beteken dat predikante deur die staat aan gemeentes voorsien is en alle aanstellings deur die staat goedgekeur moes word. Kerk geboue is deur die staat goedgekeur en ouderlinge kon eers in hul amp bevestig word nadat die staat hulle daartoe benoem het.
Nou kan verstaan word dat Van Kervel sy vriend AP aanbeveel het en dat AP aangestel is as voorleser, onderwyser en om die gemeenskap as mediese dokter te bedien. ‘n Voorleser se pligte was o.a. om die Sondag oggenddiens te open met sang – onthou daar was destyds geen orrel om die begeleiding te doen nie. Na die sang lees die voorleser die gedeelte uit die Bybel voor waaroor die predikant gaan preek.
Daarna lees hy die Tien Gebooie, Twaalf Artikels en Apostoliese Geloofsbelydenis. Dan huweliksgebooie en ander aankondigings namens die kerkraad. Dan eers het die predikant ingekom en sy preek gelewer. Indien die predikant om een of ander rede nie beskikbaar was nie, moes die voorleser die diens waarneem deur ‘n “stichtelikijke predikatie en formuliergebeden” voor te lees.
Die vergoeding wat die voorleser vir sy dienste ontvang het, het uit drie bronne gekom. Van die staat het hy 100 riksdaalders per jaar ontvang. Uit die gemeente het hy 52 riksdaalders per jaar en ontvang en 2 riksdaalders vir elke afkondiging van huweliksgebooie en uitreik van doop- lidmaat- en huweliksertifikate.
In daardie tyd was die voorleser ook verantwoordelik as sogenaamde “publieke onderwyzer” vir skool onderrig van die gemeenskap se kinders. Daar kon nie vasgestel word hoeveel kinders aanvanklik in die skool opgeneem is nie. En vermoedelik was onderrig verskaf in ‘n huis te Sandkraal wat die regering by CF Pohl gehuur het.
Behalwe hierdie pligte wat AP moes verrig was hy ook geneesheer. ‘n Verwysing na sy werk as geneesheer word in ‘n verslag van 18 Januarie 1813, genoem. Daardie verslag was opgestel nadat luitenant-generaal John Cradock landdrosdistrikte van Graaff Reinet, Uitenhage en George besoek het.
Dit was ook in sy eerste jaar op George wat AP, toe reeds 42 jaar oud kennis maak met Fanny Keogh ‘n jong dame wie se pa afkomstig was uit Dublin, Ierland.
Fanny se vader was ‘n offisier in die 84ste Regiment (Engeland) wat tydens sy verblyf aan die Kaap ‘n buite egtelike kind gehad het. Patrick was goed bevriend met kaptein Van Kervel. As offisier in die Britse leër is hy later verplaas uit die Kaap. Voor sy vertrek uit die Kaap het Patrick Keogh ‘n notariële dokument laat opstel waarin hy die Van Kervels as die wettige voogde van klein Frances (Fanny) benoem. En hulle beloof om haar as ‘n eie kind ‘n Christelike opvoeding te gee.
Aan die begin toe daar nog geen kerkgebou in George en ook nie ‘n predikant was nie, is kerkdienste deur die voorleser en besoekende predikante gehou in die voorhuis van C F Pohl op sy plaas Sandkraal daar naby. Terloops, dit is ook in hierdie voorhuis waar die huwelik van AP en Fanny voltrek is.
In 1813 is die “Ou Posthuis” na omskepping as kerkgebou in gebruik geneem. (Eers op 2 Maart 1817 is die eerste eintlike kerkgebou, die sogenaamde Cradock-kerk ingewy.) Die eerste predikant was ds. Tobias Johannes Herold wat reeds op Sondag 25 April 1813 sy intreepreek sonder dat hy bevestig is, te George gelewer het.
Op 9 Mei 1813, twee weke na ds Herold se intreepreek het die landdros op ‘n kerkraadsvergadering – onthou as staatsamptenaar was dit sy verpligting om kerkraadslede te benoem – is J.W. Paulsen as koster aangestel op voorwaarde dat hy AP sou bystaan “ondersteunende in’t voorzingen.” Dit was duidelik dat AP nie kon sing nie. Dit was op sy versoek dat so ‘n voorwaarde aan die koster se aanstelling gekoppel word.
Wat wel uit geskrifte en oorvertellings afgelei kan word, is dat AP ‘n vurige man was met ‘n “vurige humeur’, wat hom soms taktloos en sterk kon uitspreek. ‘n Jaar nadat dominee Herold en AP saamgewerk het, meld ds Harold dat hy “door mag van omstandigheden genoodzaak is geweest, den nij hem over blasphimie aangeklaagde voorleser van der Colff van zijn ambt zoo lang te disisteren ...”
Dit is duidelik dat iemand by die dominee gekla het oor AP se “blasphimie.” Die woord kan beteken, godslastering óf gevloek óf geswets. Moontlik was die oorsaak die gebruik van kru of kras taal.
Dit blyk verder dat deur ‘n kommissie bevind is dat daar nie voldoende getuienis is om hom skuldig te vind en hom te straf nie en die saak is sonder uitspraak daar gelaat.
Die Commissie het nooit weer oor die saak gehandel nie en het volstaan by sy eerste besluit van onvoldoende bewyse. Vir AP was dit egter ‘n klad op sy naam en ‘n voorval wat ‘n slegte nasmaak gehad het. In ‘n brief gedateer 22 April 1814 skryf hy aan die skoolkommissie te George waarin hy meld dat hy bewus is van sy gedeeltelike onbekwaamheid vir die voorlesers amp – sy gebrekkige sangtalent en ook dat dit vir sommige wat meer luister wou verleen aan die openbaren erediens tot aanstoot is.
En dat die pos ten spyte daarvan aan hom toevertrou is.
Hy meld verder dat talle vrugtelose pogings aangewend was om hom deur ‘n geskikte persoon te vervang en dat daar moontlik grondige redes is om geheime dryfvere hieragter te sien.
Dit kan aanleiding gee tot wanorde waaraan hy geen deel wil hê nie en daarom voel hy hom genoodsaak om uit die gemelde pos te bedank. Dit is duidelik dat AP self as voorleser bedank het en miskien ook as onderwyser en dat dit histories foutief is om te beweer dat hy óf geskors óf ontslaan is.
Die gebeure het daartoe gelei dat AP besluit het om George te verlaat en na Tulbagh te verhuis. Sy oudste kind was skaars 2 jaar oud en ‘n baba net ‘n paar maande voordat sy vrou dood is. ‘n Moontlike rede hoekom Tulbagh, is dat dr. RH Ackerman ‘n vroeëre kollega en goeie vriend in Tulbagh gewoon en praktiseer het.
So kom daar ‘n einde aan onderwyser, voorleser en dokter, Adriaan Petrus van der Colff se bydrae tot die vestiging en ontwikkeling van die dorp George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'