Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Onder die inwoners van Tuiniqua - wie se harte blyk al jonger te word - word Valentynsdag met toenemende passie gevier. Dit was rooi net waar jy kyk by dié aftreesentrum op 14 Februarie - 'n oulap se rooi maak mos mooi.
Daar was 'n geurige spyskaart. Tydens die ete is Ria Burger ('n voormalige hoof van Tuiniqua) en Charles Youngas Mnr. en Mej. Valentine formeel deur die vorige jaar se wenners gekroon.
Manne wat skelm briefies gestuur het, is ook uitgevang en daar is heerlik gespot.
Die Valentynsfeestelikhede is afgesluit met 'n dans die aand. Onder die geklank van Tokkie Nel se pragtige kitaarspel en Freek Muller se strelende stem het die sokkies gewaai en het regoppes en krommes, skewes en plattes, sommige sommer met hul stootkarretjies en rolstoele, die dansbaan getakel. Dié wat nie regtig nie meer kan dans nie, het die musiek geniet en hul verlustig aan hul huismaats se manewales op die baan. Tokkie het 'n hele klompie pryse saamgebring wat ook die belangstelling verder aangewakker het.
Opregte dank aan Tokkie van Tokkie Nel Juweliers en Freek Muller vir hul gereelde opoffering om hul liefde vir ouer persone so sigbaar te kom maak. Met sulke goue harte is daar nog baie hoop vir
die samelewing in ons pragtige dorp.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'