GEORGE NUUS - Een van Heroldsbaai se bekendste inwoners, Flip Gous, alom bekend as Pous Gous, is op Maandag 8 Maart oorlede. Hy was 'n legende in die kusdorp en mense het na hom verwys as ‘Die Pous van Heroldsbaai’.
Die 82-jarige Gous het die afgelope tyd 'n stryd teen kanker gevoer. Hy was jare lank betrokke by die vleis-, drank- en hotelbedryf. Gous het lank die oorspronklike Heroldsbaai Hotel besit en dit later verkoop.
Sy eerste hotel wat hy gekoop het was die Oranje Hotel in Bloemfontein. Gous het in 'n stadium ook die ou Garden Route Hotel besit.
Hy is Dinsdag deur mense wat hom goed geken het as 'n bedrewe sakeman en iemand met 'n geweldige mensekennis, beskryf.
Sy jongste dogter, Philma Gomes wat in Koeweit woon, het telefonies gesê haar pa was baie lief vir mense. Hy het 'n groot vriendekring gehad. Talle bekendes soos Ernie Els, die internasionale gholfspeler en wyle Marius Swart, 'n voormalige burgemeester van George, se lewenspaaie het in Heroldsbaai met syne gekruis.
Flip Gous
"Hy het 'n ongelooflike teenwoordigheid gehad. My pa het goeie menseverhoudinge gehad en graag geselsies met mense aangeknoop. Ons familie gaan hom geweldig mis," het sy gesê.
Begrafnisreëlings sal later bekendgemaak word. Sy eggenoot, Marie Gous is in 2015 in 'n skietvoorval oorlede.
Johan du Preez wat Gous leer ken het by die ou Heroldsbaai Hotel, het gesê dit was 'n gewilde kuierplek.
Volgens Du Preez was Gous gemoedelik en vol grappe. "Hy het altyd tyd gehad as mens 'n draai daar gemaak het en hy het mense na hom aangetrek. As hy gesien het iemand is vreemd, sou hy hom of haar laat tuis voel het."
Gous word oorleef deur vier kinders, Helmien Niemann van Pretoria, Retha Dutton van Australië, Fanie Gous van Bloemfontein en Philma Gomes wat in Koeweit woon. Hy het ook 10 kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Flip Gous saam met sy jongste dogter, Philma Gomes.
One of Herold’s Bay's most well-known residents, Flip Gous, known as Pous Gous, died on Monday 8 March after a battle with cancer. He was 82 years old. He used to own the popular Herold’s Bay Hotel. He is survived by four children, 10 grandchildren and four great grandchildren.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'