GEORGE NUUS - George DA-raadslid, pastoor Melvin Roelfse, word tans deur die Pacaltsdorp-speurdiens vir naamskending ondersoek, na aanleiding van 'n Facebook-plasings op die blad, Rosedale Staan Saam.
Roelfse is die wyksraadslid van Rosedale en 'n gedeelte van Pacaltsdorp (wyk 14). Die klaer is 'n wykskomiteelid van wyk 14, Charleen Titus (60), van Rosedale.
Titus is baie ontsteld oor Roelfse se beweerde uitlatings oor haar pruik, beweerde verhoudings en haar eiendom.
Roelfse het by navraag gesê dat hy nog nie 'n woord van die polisie gehoor het nie en gaan dus geen kommentaar op hierdie stadium lewer nie. Op 'n vraag of die saak deur die speaker ondersoek word, het munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards-Klose, gesê dat die kantoor van die speaker, Gerrit Pretorius, nog geen klagte oor Roelfse ontvang het om te ondersoek nie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat 'n ondersoek aan die gang is: "Sodra die dossier volledig ondersoek is en die verdagte se verklaring verkry is, sal die dossier aan die NVG voorgelê word vir beslissing. Geen arrestasies is gemaak nie."
DA-kiesafdelingshoof van George, Geordin Hill-Lewis, het by navraag gesê hy is onbewus van die voorval. "Daar sal baie versoekings op Facebook wees van teenstanders om ons in gevegte en argumente te lok. Die verkiesing word in die strate en gemeenskappe gewen en verloor, en nie op Facebook nie," het hy gesê.
Charleen Titus: "Na 'n verkiesing moet 'n mens steeds by mekaar kan brood en suiker leen. Ek en Roelfse is ongelukkig nie meer op daai plek nie."
Krapperigheid
Volgens Titus is sy getraumatiseerd na die voorval. "Ek het die VD (voting district) in Rosedale op 11 November verlede jaar met die tussenverkiesings gewen.
"Roelfse het die meeste stemme gewerf met stemme van Pacaltsdorp. Daar was nog altyd 'n krapperigheid tussen ons, maar nou het hy dit na 'n ander level geneem."
Titus het haar uitgelaat oor Roelfse se gedrag wat sy as onbetaamlik vir 'n pastoor bestempel. "Ek is al vir 11 jaar 'n gemeenskapswerker in Rosedale. Dit het alles begin toe iemand my op Facebook bedank het vir dit wat ek vir die gemeenskap doen. Ek het gereël dat iemand by die behuisingskantoor die gemeenskap van Rosedale-plakkerskamp toespreek oor die registrasieproses vir behuising. Van die mense se aansoekvorms was foutief en hulle kon regstellings gemaak.
"Roelfse het toe op Facebook losgetrek en 'n klomp onwaarhede en lelike goed oor my gesê, soos dat ek nie die wettige eienaar van my eie huis is nie, dat ek onbetaamlike verhoudings het, kos uit kinders se monde neem en dat ek 'n pruik dra.
"Ek gaan vra nie vir hom geld vir 'n pruik nie, ek het hare. Dis omdat ek so besig is met die gemeenskap dat ek 'n pruik opsit as hulle my snags kom wakker maak met probleme." Titus het gesê sy is nie 'n Facebook-leser nie, maar het by die mense van die inskrywings gehoor.
Sy het die saak sowat twee weke gelede op 30 Mei aanhangig gemaak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'