GEORGE NUUS - Hoe bekommerd mense ook al is oor die risiko van 'n kernoorlog, is die groter tydbom honger mense. Só het Nelius van Greunen, bekende landbouleier van die Suid-Kaap, tydens die algemene jaarvergadering van die George-sakekamer verlede Woensdag, 20 April, gewaarsku.
Van Greunen, wat die sakekamer se sakepersoon van 2019 was, was die geleentheidspreker tydens die jaarvergadering. Dit is deur verskeie sakeleiers asook Leon van Wyk, George se burgemeester, bygewoon.
Van Greunen het in sy toespraak verwys na die belangrike rol van landbou en die uitdagings waarmee die bedryf te doen kry. Hy het ook 'n kort oorsig gegee van landbou-aktiwiteite in die gebied.
Hy het gesê die Tuinroete-distrik, waarvan George die kern is, word gekenmerk deur die groot invloei van inwoners. Dit skep 'n tekort aan behuising en bepaalde dienste.
Die bevolkingstoename word nie nood-wendig gerugsteun deur dieselfde mate van ekonomiese geleenthede nie, gevolglik is die ekonomiese groei in die gebied grootliks gerig daarop om vir die groeiende bevolking voorsiening te maak met inkomste wat elders genereer moet word.
Dit laat die plaaslike ekonomie as 'n verbruikersgedrewe ekonomie eerder as 'n produksiegedrewe ekonomie.
Volgens Van Greunen was dit baie duidelik tydens die streng inperkings van 20220/2021 hoe landbou sterk gegroei het en as stut in die ekonomie gedien het.
Almal is terdeë bewus van die nadelige uitwerking wat Covid-19 en die oorlog in Ukraïne op voedselvoorsiening het.
Toenemende verstedeliking en bevolkings-groei verhoog mense se afhanklikheid van kommersiële landbou. Bevolkingsgroei verminder ook beskikbare grond en water vir voedselproduksie.
"In my leeftyd is in ons eie gebied baie landboubronne in hierdie proses verlore. Daar moet dus heeltyd meer voedsel met minder geproduseer word. Bekostigbaarheid van voedsel is 'n hoë prioriteit," het hy gesê.
Dr. Willie Cilliers, nuwe voorsitter van die George-sakekamer, het gesê daar kan nie voortgegaan word soos in die verlede nie. Raadslede moet ook verantwoordelikhede opneem en daar moet gewerk word aan 'n visie en 'n strategie.
Die nuwe raad van die George-sakekamer is: Dr. Willie Cilliers, voorsitter; Brenda Vorster, onder-voorsitter; Henry Grobler, Keith Sharp en Theo Adams. Die nuwe uitvoerende komitee is: Elsie Harmse, Irene Koegelenberg, Henk Botma, Nadia Harding, Sors Grobbelaar en Enrico Acker.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'