GEORGE NUUS - Wanneer klein Jenesis Wiltschire van George eendag terugkyk sal sy besef haar naam is heel gepas. Die bondeltjie vreugde is op 1 Januarie in die Mediclinic George gebore en haar naam is afgelei uit die Grieks wat begin beteken.
Jenesis is om 22:29 gebore en het 2.855 kg geweeg. Sy was die enigste nuwejaarsbaba wat in die Mediclinic George gebore is.
Jenesis is die derde kind van Elgeron en Jonelle Wiltschire. Die egpaar het ook twee ander kinders - 'n dogtertjie (5) en 'n seuntjie (9).
Hulle het Dinsdag 2 Januarie trots die nuwe familielid gewys wat met 'n noodkeisersnee in die wêreld gebring is.
Volgens hulle is die familie baie opgewonde oor Jenesis. "Die boetie en sussie is baie opgewonde dat sy moet huistoe kom."
Jenesis is 'n paar weke te vroeg gebore, maar daar is geen fout nie. Sy het Dinsdag suurstof behandeling ontvang.
Hulle het gesê haar naam is ironies want sy is op 1 Januarie gebore is. Dit was nie so beplan dat sy op 1 Januarie haar eerste lewenslig sou aanskou.
Toe Elgeron Maandag na werk by die huis kom het Jonelle vir hom gesê dis sulke tyd. Hulle het die hospitaal gebel wat aanbeveel het Jonelle moet eerder inkom om te kyk wat is aan die gang.
Hulle het vooraf geweet wat die geslag van die kind is "Ons wou 'n seuntjie gehad het, maar ons is bly dis 'n dogtertjie. Haar geslag is in die Here se hande. Ons was nie gesteld op die baba se geslag nie. Ons wou net 'n gesonde baba hê."
Jonelle het gesê sy voel verbasend goed na die geboorte.
Elgeron het gesê hy het al voorheen pa geword, maar die keer was dit anders. "Dis die eerste keer dat een van ons kinders vroeg gebore word. Ek is baie opgewonde."
Die egpaar is dit eens dat Jenesis eendag self moet besluit wat se beroep sy wil beoefen. "Ons sal haar ondersteun."
Elgeron en Jonelle Wiltschire.Dinsdag in die Mediclinic George. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’