Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Jong branderplankryer van George Didi Tolmay (12), droom ook daarvan om Suid-Afrika eendag by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
Didi was Saterdagoggend, 31 Julie, reeds vroeg saam met haar ma Petru, by George-lughawe om haar heldin, Bianca Buitendag, met 'n bos blomme te verwelkom. Dit was alles die moeite werd, want sy het haar heldin in lewende lywe ontmoet en selfs 'n drukkie van haar ontvang.
Buitendag het tydens die afgelope Olimpiese Spele in Japan 'n silwermedalje in branderplankry vir vroue verower.
Didi, 'n gr. 7-leerling by Laerskool Outeniqua, het later opgewonde vertel van haar ontmoeting met Bianca. Sy het twee jaar gelede aan branderplankry begin deelneem en ontvang lesse by Surfends in Victoriabaai.
"Ek het baie keer gesien hoe die ooms en tannies branderplankry. Toe het ek besluit dit is wat ek wil doen. Ek is baie lief vir die see."
Sy het haar eerste branderplank verlede jaar ontvang. "Ek surf drie keer per week by Victoriabaai as my skoolwerk dit toelaat. Ek wil later ook aan kompetisies deelneem. Dit het my nog meer geïnspireer toe ek Bianca op televisie aan die spele sien deelneem. Bianca is my rolmodel."
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Didi se boodskap aan die jeug en haar maats is om hul drome uit te leef, deursettingsvermoë te hê en nooit tou op te gooi nie. "My droom is om na die Olimpiese Spele te gaan en 'n medalje te ontvang."
Didi speel ook graag hokkie en wil eendag 'n prokureur word.
Petru en haar man, Christo, is baie trots op hul dogter. Hulle het ook 'n seun, Hannes, wat meer tegnies is en in rekenaars belangstel.
"Didi verbaas ons met haar deursettings-vermoë. As sy vir klasse (branderplankry) gaan hou sy net aan. As sy van die branderplank afval klim sy net weer op. Sy is van kleins af baie lief vir die water. Sy sê as sy in die water is voel dit of sy by die huis is. Dis waar sy gelukkig is."
Didi Tolmay (12) saam met haar ma, Petru, by die George-lughawe. Foto: Eugene Gunning
Bianca Buitendag omhels Didi Tolmay (12) by die lughawe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'