GEORGE NUUS - Johann Lerm, wat al bekendheid as 'n suksesvolle rugbyafrigter verwerf het, is besig om ook sy merk as skrywer te maak.
Sy derde boek, Jemimah, het verlede week, Donderdag 11 Mei verskyn. Twee boeke, Geestelike Vitamines en Breek die Grendels, het reeds uit sy pen verskyn. Dit het 'n sterk verband met die Covid-tyd en met sy boeke gee hy hoop.
Dit is tussen 2021 en 2023 geskryf.
Lerm, wat ook predikant en radio-omroeper is, het in die grendeltyd aan sy eerste boek begin skryf.
Dit is aantekeninge van mense se daaglikse belewenisse met God in tye van swaarkry.
In die boek is meer as 70 stories vervat van geloof, hoop en liefde uit die alledaagse gebeurtenisse van mense.
Aktuele gebeurtenisse en geskiedenis word betrek.
Sy tweede boek is 'n getuienis van hoop. Mense het die grendeltyd oorleef en positief daar deurgekom.
Dis stories van mense wat uitstaan as grendelbrekers in 'n tyd waar hoop soms min was.
In sy jongste boek word geloofstories vertel van mense wie se duisternis deur God se sonstrale van hoop verdryf is.
Jemimah, die titel van die boek, is die Hebreeuse woord vir wanneer die eerste sonstrale deur die donkerste nag breek en die tortelduif begin koer.
Dit was ook die naam van Job se oudste dogter nadat God vir Job weer herstel het.
Volgens Lerm vertel die boek van God se betrokkenheid by mense in hul omstandighede.
Hy poog om in die boek deur inspirerende getuienis die leser opnuut onder die indruk van God se nimmereindigende liefde en omgee te bring.
Voorts dat God ons as mense nie aan ons eie lot oorlaat nie.
Lerm het gesê hy wil nog skryf. "Dis soos 'n vuur wat in 'n mens se hart brand en jy nie kan blus nie." Dit vloei uit die bediening en hy wil help om vir mense in donker tye hoop te gee.
Die skrywery verg dissipline en hy volg 'n bepaalde patroon. Gewoonlik skryf hy soggens vroeg. Hy skryf omdat hy dit geniet.
"Behalwe vir die groot name sal iemand nie sommer geld kan maak uit skryf nie. Skryf is vir my 'n passie."
Hy het reeds 'n paar idees om weer iets te skryf en sal moontlik 'n ander genre aandurf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’