Só het dr. Muneera Mohamed van DARE (Drugs, Addiction, Recovery and Empowerment ) verlede Vrydag by die opening van hul satelietkantoor in Pacaltsdorp gesê. Dié dwelmbekampingsorganisasie wat reeds in 2008 gestig is, het nog ‘n kantoor in die middedorp in Markstraat (ou EDENfm-kantore).
Tydens hul navorsing in Pacaltsdorp is bevind dat daar minstens een persoon in elke derde huis is wat dwelms of alkohol misbruik. In sommige gebiede is daar in elke huishouding iemand wat ‘n afhanklikheidsmiddel misbruik.
Pacaltsdorp is geen uitsondering nie. Ander woongebiede in George staar daagliks dieselfde uitdagings in die gesig. Dare hoop dat hulle in die nabye toekoms satelietkantore in elke woongebied in George kan open.
Pastoor Allen Spies van die AGS-gemeente Pacaltsdorp was ook by die opening en het die drank- en dwelmprobleem met die Rooi See in die Bybel vergelyk.
"Soos God die Rooi See vir die Israeliete oopgemaak het om op droë grond deur te stap, gaan ons dié euwels met God as ons vennoot uitroei. Die kerk vat hande met Dare en hoop en vertrou dit is die begin van groot dinge," het Pastoor Spies gesê.
Die kerk het ‘n huis op sy perseel by Heatherstraat 41, Harmony Park beskikbaar gestel vir Dare om hul kantore te open.
George-raadslid Johan Stander het Dare geloof vir hul goeie werk en gesê hy is bly dat Dare jongmense die gereedskap gee om die uiteenlopende uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word die hoof te bied.
"Dit is ons almal se taak om dié stryd te beveg. Mag julle nie moeg raak in jul werk nie," het Stander gesê.
Een van Dare se beraders, ‘n gerehabiliteerde verslaafde, mnr. Rodrique Felix het ook tydens die opening ‘n getuienis gelewer oor sy verslawing en die spoor van verwoesting wat dit gelaat het, sy pad na herstel en sy lewe soos dit nou is. Ouers wat hulp soek vir hul verslaafdes kinders, kinders wat uit die greep van dwelms verlos wil word en skole wat probleme ondervind met leerders wat dwelms gebruik, is welkom om Dare te kontak vir hulp en ondersteuning. Dare het ‘n ses-weke program wat verslaafdes kan deurloop waartydens hulle weekliks getoets sal word om seker te maak hulle gebruik nie enige afhanklikheidsmiddels nie. Diegene wat die program suksesvol deurloop, sal ‘n sertifikaat ontvang.
Vir meer besonderhede, besoek Dare by een van hul kantore of kontak hulle by 044 884 1915.

Pastoor Allen Spies saam met twee motorfietsryers van die Fugitives-klub.

Zeza Mntuyedwa en Shaun Bester van Dare tydens hul demonstrasie oor die skade wat dwelms in die liggaam aanrig. Agter hulle staan Morne Pietersen, seremoniemeester en lid van Dare.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS