Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - "Ek het die video gesien!" sê die plaaslike YouTube-sensasie en kitaarspeler, Daniël Williams, tydens George Herald se besoek by sy gereelde speelplek voor Spar in Wellington Square.
'n Onlangse YouTube-video waarin Daniël die klank van 'n saxofoon met 'n koeldrankproppie naboots, het meer as vyf miljoen kykers gelok.
Hy wys hoe die truuk werk, en vertel van sy liefde vir musiek. "Ek het 'n jong outjie in Knysna só sien speel met 'n proppie. Sien, hulle maak van hom 'n proppie-sax!" Dit klink nes die ware Jakob.
Die eelte aan Daniël se vingers sit dik korse van heeldag tokkel aan kitaarsnare. "Dis soms baie seer, maar dis nou my werk. Mense wil my sien speel," sê hy.
Agter die vriendelike gesig rus daar egter 'n diep verlange na sy dogter wat hy onlangs aan die dood moes afstaan. Boonop is sy bors ook seer. "Dis nie 'n goeie dag nie. Ek is jammer, ek kan nie vandag voluit speel nie," sê Daniël. "My dogter het saam met my gewoon. Al die tjoklits wat mense vir my gegee het, al die lekker eetgoed, het ek altyd vir haar gehou."
Kyk 'n video hieronder.
Daniël vertel van sy gesin se musiektalent. "My vrou sing gospel en my een seun is 'n dromspeler. Ek self kan ook baskitaar en dromme speel," sê hy. "Die moeilikheid in my lewe het met behuising begin en nou is ons almal uitmekaar."
Sy droom is om eenmanvertonings by hotelle aan te bied. Hy het juis 'n speelplek in gedagte, op pad na Wilderness. "Ek word 60 vanjaar. Ek het eers op my oudag my musiek ernstig opgevat. Ek hoef nie te bedel nie, ek verdien genoeg om te eet. Jy weet, ek is wêreldberoemd, maar ek kan nie klere koop nie. Ek was met koue water nadat tikkoppe my gasstofie en pot met kos uit my hut gesteel het. Dit was actually 'n geskenk van 'n baie nice vrou wat my hoor speel het."
Intussen speel hy kitaar en proppie-sax vir aalmoese terwyl hy wag op beter dae. Beter as vandag.
Kyk 'n video hieronder.
Foto's: Michelle Pienaar
Die eelte aan Daniël se vingers sit dik korse van heeldag tokkel aan kitaarsnare.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'