Gallery
GEORGE NUUS - Die strate van Pacaltsdorp was vroegoggend buitengewoon stil op eerste dag van algehele inperking. Verskeie pendelaars, meestal werkers wat op pad werk toe was, is by die bushaltes opgemerk.
In meeste dele van die woonbuurt was die mense binnenshuis of in hul erf besig om ‘n koppie koffie te drink terwyl hulle die wêreld bekyk of in hul tuine besig.
Huiswinkels was oop vir besigheid en hier en daar het inwoners brood en melk aankope gedoen. Maar soos die son al hoër begin skuif het, het talle mense in ander dele, in die strate begin beweeg.
Fotogalery: Ingang na Pacaltsdorp was vroegoggend baie stil
Kinders speel op straathoeke en in die straat en ‘n drawwer is selfs in Olympicrylaan in Dellvillepark opgemerk.
Op sosiale media het inwoners hul kommer uitgespreek en gevra waar die polisie is wat moet verseker dat die publiek die regulasies van die algehele inperking gehoorsaam.
Die polisie se kommentaar word afgewag en sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
Die George-munisipaliteit het in ‘n verklaring vanoggend (Vrydag 27 Maart om 11:00) ‘n waarskuwing aan die publiek uitgereik. Hierin word inwoners gewaarsku teen kriminele wat die huidige situasie uitbuit. “Nooddienste is in kennis gestel van kriminele wat toegang tot mense se huise probeer kry deur hulle as koronovirus-toetsers voordoen. Moet nie julle deure oopmaak vir die sogenaamde toetsers nie. U sal vooraf deur die department van gesondheid gekontak word as u by die huis getoets moet word,” lui die verklaring.
John Hendricks staan op die dak van die Bell Air-drankwinkel met sy twee honde en kyk oor New Dawnpark waar daar steeds baie mense in die strate rondbeweeg.
Klein Layla da Silva geniet vanoggend haar pap terwyl sy 'n ogie hou oor wie in die pad rondbeweeg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'