GEORGE NUUS - Hoop het nog altyd 'n verskil gemaak en dit is wat die jeug van die Anglikaanse kerk in Pacaltsdorp hoop om met hul beweging #SundaysInYellow te bereik.
Jermaine Fredricks, die jeugleier van St. Albans, sê wat begin het binne die kerk, het nou baie groter geraak. Sy sê Sondag se protesaksie by die verkeersligte in Dellville Park het alle denominasies ingesluit en families het saamgestaan teen geweld teen vroue en kinders.
"Met die gru dood van Tasne van Wyk vroeër vanjaar, het ons tak 'n bewusmakingsessie binne die kerk gehad en toe beloof om dit verder te vat."
Fredericks sê Sondag was dit duidelik dat mense genoeg gehad het van geweld teen vroue en kinders, maar ook van korrupsie en ongelykheid.
"Ons staan vir 'n sisteem waar jongmense en kinders 'n sê het in besluite wat hulle raak en waar hulle belange aangehoor word." Sy sê hulle wil hê die regstelsel moet reg toegepas word.
"Ons het genoeg gehad van gemeenskappe wat gebuk gaan onder korrupsie en armoede. Ons wil net hê dat almal gelyk moet wees en dat geregtigheid moet seëvier."
Sy sê Sondag se beweging was maar net die begin en is bygewoon deur min mense omdat die Covid-19-reëls gehoorsaam moes word. Die funksie is ook ondersteun deur lede van sosiale ontwikkeling en 'n motorfietsklub.
Marylin Meiring was ook daar.
Foto's: Salette Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'